Wyle Danie Wium (1956-2015)

Danie was ons hoofseun, maar hy het ons ontval in 2015. Ons eer sy nagedagtenis met hierdie kort huldeblyk deur sy broer Jan.

Danie Wium was hoofseun in 1973. Met sy afsterwe in 2015 het dit ʼn baie groot leemte gelaat vir almal wat hom geken het. Hy was nie alleenlik ʼn leier op skool nie, maar het voortgegaan en leiding geneem oral waar hy gekom het. Baie skoolvriende sal onthou hoedat Danie die nie-amptelike skoolfotograaf by atletiekbyeenkomste was. Fotografie was maar een van sy baie passies, wat ingesluit het sy loopbaan as ingenieur, om te draf, “windsurfing”, om wyd te lees, en ook sy oortuiging as Christen. Na skool het hy by Tukkies siviele ingenieurswese voltooi. Hy is in 1980 met Anna-Marie Weich getroud, en na hul verblyf van 3 jaar in Boston waar hy sy PhD voltooi het by die Massachusetts Institute of Technology (MIT), het hul gesin begin groei. Eers is Lizemarie en Jolene gebore, en toe 10 jaar later, het Daniel sy opwagting gemaak. Almal wat vir Danie geken het sal hom onthou vir sy intellek en sy vermoë om oplossings te vind vir uitdagende probleme. Hy was ʼn ware ingenieur en het geleenthede en oplossings raakgesien wat sy kollegas soms eers heelwat later verstaan het. Saam met Anna-Marie het hulle kinders grootgemaak met blootstelling aan die wêreld en sy uitdagings, aan naastediens en hulp aan ander, en het in hulle ʼn vermoë ontwikkel om ook ver te reik. Danie word onthou as gesinsman, vir omgee, vir sy skerp brein, vir sy nederigheid, en vir sy Christenskap. Ons sou graag hierdie 50e herdenking van sy matriekjaar saam met hom wou vier.

One Response

  1. Mooi huldeblyk. As ek in die systraatjies kortpad vat tussen Charlesstraat en Atterbury dink ek elke keer aan hom. Baie van die foto’s wat ek gehou het van skool, het hy geneem.

Leave a Reply to Gerda Pretorius Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *