Na ‘n baie gesellige Zoomgesprek met sommige van ons 1973-klasmaats op Saterdagoggend, 15 April 2023, het ek gewonder wat ons van 1973 onthou.
Ek stel dus hierdie rubriek vir die webbladsy voor, waar enige persoon herinneringe uit 1973 met die groep kan deel. In ‘n poging om dit af te skop, het ek vingers op die sleutelbord gesit. In 1973 sou dit ‘n opmerking oor pen en papier gewees het.
In 1973 was adv John Vorster die Eerste Minister en mnr Jim Fouché was die Staatspresident. Die Nasionale Party was reeds 25 jaar aan bewind en het onaantasbaar gelyk. Die HNP aan die regterkant en die VP (amptelike opposisie na links) en die PP (verder na links) was geen bedreiging vir die regering nie. Hoe het dinge nie binne 20 jaar na 1973 verander nie?
Suid-Afrika was midde-in ‘n proses van metrisasie (party taalkundiges verkies metrisering), wat van 1971 tot 1975 deurgevoer is. Dit was ‘n gesukkel om van voet en duim, pond en ons, en gelling en pinte, by meters en sentimeters, kilogramme en gramme, en liters aan te pas. Vandag kyk ons met dankbaarheid terug na suksesvolle metrisasie.
Koerante (weekblaaie en Sondagkoerante), tydskrifte en radio was die nuusmedia. Teen 1973 het Suid-Afrika nog nie televisie gehad nie, want dit was dalk té liberaal. Die prys van ‘n weeklikse koerant was 5c.
Sedert 1973 het pryse in Suid-Afrika weens inflasie gemiddeld met ‘n faktor van 67 gestyg. As ‘n mandjie goedere toe R10 gekos het, sal dit nou gemiddeld R670 kos. Bruinbrood se prys was 9c en eiers het 40c/dosyn gekos. Sout was 13c/kg en kookolie was 46c/750ml. Fliek in die twee voorste rye by die Cinerama was 35c, maar weens die geboë doek kon ons dan eintlik net na die fliek luister. Camel sigarette was 45c vir 20 en sigaretadvertensies was wettig.
Pryse van klere en elektriese goedere het sedert 1973 gemiddeld met minder as die inflasiekoers gestyg, terwyl voertuie se pryse baie vinniger gestyg het. Laasgenoemde reflekteer natuurlik gehalteverbeterings soos kragstuur, lugversorging en so meer. In 1973 was die prys van ‘n 1300 Volkswagen Beetle R1 998. ‘n Waaierband vir die Beetle was R1,00 en ‘n versoolde band was R12,00.
Die prys van ‘n Valiant Rebel was R3 795 en dit was ook die prys van ‘n BWW 2000 SA, ‘n Chevrolet 4100 en ‘n Ford Granada 3000. ‘n Volvo 164 het R5 400 gekos, omtrent dieselfde prys as ‘n Citroen Pallas. Geskiedenis is gemaak toe ‘n motor die eerste keer in Suid-Afrika meer as R10 000 gekos het. Die Mercedes-Benz 350SE se prys was R11 766. Een van die vinnigste motors in Suid-Afrika was ‘n Ford Fairmont GT, wat R4 662 gekos het.
Die eerste oliekrisis was in 1973 en almal is sleg daardeur getref. Die algemene spoedbeperking is na 80 km/u verlaag en petrol is net tussen 07:00 en 17:00 van Maandag tot Vrydag verkoop. Die petrolprys is gedurende 1973 skerp verhoog en het gestyg vanaf 10,9c/liter in Januarie 1973 tot 12,4c/liter teen die einde van daardie jaar.
Die wisselkoers was in 1973 sowat R1 = VS$1,40, of dan VS$1 = 72c. Dit laat my sidder oor die huidige wisselkoers, wat swakker is as VS$1 = R18,00. Dit wys die impak van Suid-Afrika se jarelange hoë inflasiekoers.
Daar was gerugte van skermutselings op die noordelike grens van Suidwes-Afrika (vandag Namibië), maar kragtens beheermaatreëls wat destyds gegeld het, mag die media nie eintlik oor die weermag se betrokkendheid verslag gedoen het nie. Al die seuns in matriek moes egter gaan diensplig doen en inligting oor ‘n bosoorlog het na 1973 vinnig versprei.
Die N1-snelweg deur die ooste van Pretoria is in 1973 gebou, wat destyds naby die oostelike grens van die stad was. Die laaste huis aan die suid-oostekant was by Glenwoodweg 100 in Lynnwood Glen, op die hoek met die Ou Militêre Pad. Dit was later ‘n dierehospitaal. Woonbuurte soos Faerie Glen en Garsfontein verder oos is eers na 1973 ontwikkel.
Die (destydse) Noord-Transvaal het die Curriebeker teen die (detydse) Vrystaat gewen. Die wedstryd was op Loftus Versfeld en die telling was 30–22.
Die Carlton Sentrum in Johannesburg is in 1973 voltooi en was destyds die hoogste gebou in Afrika. Hier het nie veel verander nie, want dit is steeds die 4e hoogste gebou op die vasteland.
Ses A’s in matriek was ongehoord en ‘n groot uitsondering. Ek wonder steeds of vandag se skoolkinders slimmer is of harder werk, want die aantal A’s wat hulle in matriek behaal, is baie meer.
Tie a Yellow Ribbon Round the Ole Oak Tree was 1973 internasionaal die gewildste liedjie. Dalk was dit in Suid-Afrika verban, want in daardie tyd het die plaaslike Sensuurraad onder meer Kennis van die Aand van André P Brink verban. Suid-Afrika se top-Top 20 was I don’t wanna play house.
Was Suid-Afrika in 1973 ‘n ander land, of het ons regtig hier gewoon? Ons is seker die aanpasbaarste geslag in die geskiedenis.
One Response
Daardie huis in Glenwoodweg 100 was die Craigs se huis. Ek praat van Jabus en Liam en natuurlik Corinna. (ek hoop ek spel haar naam reg) Ons het een aand groot partytjie daar gehou, maar ons was nog in standerd 7 of 8.