Hier is Sonja se toespraak by geleentheid van ons 50-jaar reünie wat Vrydag 25 Augustus 2023 by die skool en by Blue Crane plaasgevind het. Sonja was ons hoofmeisie en sy is vier of vyf tale magtig. Geen wonder sy het ‘n roemryke loopbaan as professor en hoof van die Departement Afrika-tale by Unisa agter die rug.
Goeiemore Mnr Reynders, Dames en Here, Oud-Parkies en Leerders, «alle protokol nagekom» (soos ons vandag dikwels hoor).
Dit is presies 50 jaar sedert ons 1973 Parkies laas hier as matrieks gestaan het. Vir julle klink dit soos ‘n ewigheid, maar vir ons soos nou-die-dag, so vinnig vlieg die tyd verby, ‘n sogenaamde time warp (tydsverwringing). Nou dink baie van julle seker, OK, Boomer…
Baie oud-Parkies het al hulle kinders deur hierdie skool sien gaan, ‘n paar selfs hulle kleinkinders. Kan ek sommer vra, wie van julle se ouers was al op Menlopark? En nog ‘n generasie verder, wie van julle se oupas en oumas sit vanoggend hier voor? Steek sommer julle hande op … Nouja, as dit nie spreek vir hierdie skool nie, dan weet ek nie…
Soos julle seker al dikwels van julle grootouers gehoor het, was dinge baie anders toe ons op skool was – ek dink julle sou dit old-school noem:
- In hierdie boekie bv. het ons logaritmes opgesoek, van sakrekenaars was nog geen sprake nie.
- Navorsing het ons ook in boeke gedoen, dis waarvoor daar biblioteke was. Nie in ons wildste drome sou ons iets
soos Google as hulpmiddel kon ingedink het nie.
- Daar was ook ‘n vak genaamd «Tik» (nie wat julle dink nie!) wat mens kon neem i.p.v. Wiskunde, maar vandag kan almal sommer outomaties tik van die oomblik wat hulle ‘n selfoon in hulle hande het!
- Ons het briewe met die hand geskryf, of dit nou liefdesbriewe was of aansoeke vir universiteitstoelating, e-posse of WhatsApp was pie in the sky.
- En dan het ons natuurlik self opstelle neergepen en nie ChatGPT daarvoor ingespan nie.
- Bowendien, is leerders vandag definitief baie slimmer as ons was. Destyds was 7 onder-skeidings uitsonderlik. Ons ’73 hoofseun, wyle Danie Wium, was ‘n wonderkind met sy 7 onderskeidings. Ek sien op die Menlo webblad dat verlede jaar nie minder as 31 leerders 7As behaal het, om nie te praat van die 11 met 8As en een leerder selfs met 9As! Dit wil gedoen wees.
Nietemin, ek dink ek kan namens veral ons ‘73s praat – dit was interessant om al hierdie fases van ontwikkeling in die tegnologie te beleef en om nou deel te wees van die 4de Industriële Revolusie, waartoe baie van ons natuurlik ook bygedra het. Ons vergeet natuurlik ook nie ons bydraes wat op so baie gebiede gemaak is, te veel om op te noem.
As ek kyk na die lewensverhale van ons ’73 Parkies wat op ons webblad verskyn, dan het ons gehoor gegee aan die Menlo-visie deur ons talente so goed as moontlik te ontwikkel om sodoende ons regmatige plek in die samelewing te kan inneem EN om ’n verskil in die wêreld te kan maak.
Nou is dit JULLE beurt! Julle toekoms is blink… alle deure staan oop vir ontwikkelings wat julle vandag nog nie eers kan voorstel nie…
Augustus is vrouemaand in Suid-Afrika, en ek wil afsluit met ‘n boodskap aan julle meisies –- daar is soveel meer geleenthede vir vrouens as wat daar 50 jaar gelede was. Maak gebruik van die geleenthede – the world is your oyster!
Baie dankie vir die geleentheid om ons 50-, 40-, 30- 20- en 10-jarige reünies gelyktydig met die skool se 60ste verjaardag te vier!
Ek handig graag oor aan ons ’73 onderhoofseun, Henning Pieterse.

One Response
Dankie Sonja! Oulik! Ernstig en grapperig. Jy is die Beste!