Louise (van As) Vermaak

LOUISE VERMAAK (Née Van As)
Voordat ek julle vertel watter draaie die lewe met my gestap het, eers net n paar
herinneringe uit my skooldae by Menlopark.
Skooldae op Hoërskool Menlopark
Ek het Frans gehad by Annette du Plessis. Sy het toe pas teruggekeer van Frankryk en het
altyd baie Europees en Frans aangetrek – bv n oopknoop romp oor ‘n rok en haar hare in
twee bollas aan beide kante van haar kop en sy het met n tipiese Franse grasmandjie skool
toe gekom. Ek het haar geïdealiseer.
Ek het Duits ook as n vak gehad. My standerd 6 onderwyser was jou Pa, Sonja. Ek was
vreeslik bang vir hom en het aanvanklik in st 6 hopelose punte gekry in toetse. Dan het ek
raas gekry en soms n paar houe op die plathand met n liniaal. (onthou ons mag nog n raps
of twee gekry het daardie tyd) Dit het gehelp, want ek het Duits geneem tot Matriek.
Beide Frans en Duits het vir my deure oopgemaak in my latere lewe as volwassene.
Ek het Geskiedenis gehad tot matriek en het altyd baie goeie punte gekry daarvoor. Meneer
Peach het in die senior fase vir ons Geskiedenis gegee. Hy het altyd die punte uitgeroep en
dan moes jy vorentoe stap om jou vraestel te kry. In st 9 kry ek toe in een eksamen 108 %.
Soos julle kan dink, is almal toe vol op- en aanmerkings!
Ek het my dood geskaam! Sy verduideliking was dat ek al die feite genoem het en nog
ekstra byleeswerk gedoen het waarvoor hy my ook krediete gegee het. Hierdie
belangstelling het ek as volwassene uitgeleef as n stokperdjie, veral gedurende my verblyf in
Heidelberg, Transvaal.
Dan onthou ek ook die insident waar ons matrieks met klere en al in die swembad gespring
het (het ons betoog oor iets ?) In daardie jare was dit ongehoord en ons moes baie dapper
gewees het om dit te doen! Daarna is ons na die hoof se kantoor ontbied, druipnat, terwyl
ons sing: “We are marching to the office…” Meneer Gerber het ons goed geroskam en die
volgende dag was die insident in die koerant, Die Hoofstad. My ouers was geskok en kon
nie glo dat ek so rebels was nie.
Dan was daar die toer na die Kalahari-woestyn (nou Kgalagadi ) Mnr Raubenheimer, ons st
10 Biologie onderwyser, het dit gereël. ‘n Avontuur soos min! Harm Louw het skelm ‘n slang
gevang, in n blik gesit en toe vir my die blik gegee om oop te maak. Die arme slang het
meters ver getrek soos ek dit gegooi het en die seuns het natuurlik vreeslik gelag daaroor.
Die gidse het vir ons gewaarsku dat die leeus en hiënas soms snags die mense uitsleep
waar hulle lê en slaap. Ons het almal snags op die grond in ons slaapsakke rondom die vuur
geslaap. Ek en Maggie het besluit ons laat ons nie wegsleep deur n leeu nie en het toe
snags op die landrover se dak geslaap. Met dagbreek een oggend val Maggie toe van die
Landrover se dak af. Onthou ek dit reg Maggie? Gelukkig het jy nie seergekry nie!
Ons was 10 dae weg en het net elke dag net n blikkie water gehad om te was en tande te
borsel. Toe ek in die kar klim na afloop van die toer, het my Ma my een kyk gegee en gese
jy lyk vreeslik ! En ek het geweet sy was reg.

My volwasse lewe
In my volwasse lewe was ek n spreekwoordelike “Jack of all trades en Master of none” as
gevolg van my uiteenlopende belangstellings. In my beroepslewe het ek 6 beroepe beoefen
wat vir my almal ewe veel bevrediging verskaf het.
Ek studeer aan die Universiteit van Pretoria en voltooi die graag BA (Ed). Na Universiteit is
ek getroud met Chris Vermaak, ‘n Ingenieur en my studenteliefde.
Ons bly in Heidelberg Transvaal vir 23 jaar, waar ek vir baie jare meestal my twee seuns
grootmaak – tans beide Ingenieurs wat ook aan die Universiteit van Pretoria studeer het.
Hulle en hulle Pa was inwoners van Mopanie koshuis. Hulle woon tans in Kaapstad met
hulle gesinne nadat hulle vir onderskeidelik 9 en 5 jaar in die buiteland gewoon het.
Wat ‘n genade dat my kinders terug is in Suid Afrika en ons mekaar gereeld sien. Ek is die
trotse ouma van vier kleinkinders in wie se lewens ek baie betrokke is.
Gedurende die 23 jaar in Heidelberg het ek soms in aflosposte skoolgehou by Hoer
Volkskool en was ook assistant-skoolsielkundige by twee Kindersorgskole in die distrik. Ek
het sielkunde as hoofvak op Universiteit gehad.
My belangstellig in geskiedenis word toe in Heidelberg n “stokperdjie. “
Hier het ek bydraes op kultuur-historiese gebied gelewer in Heidelberg wat gekulmineer het
in die stigting van die Heidelberg Historiese Vereeniging waarvan ek stigterslid was.
Gedurende die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het ek artikels
geskryf in Heidelberg se plaaslike koerant oor die verskeie veldslae en ook kunstenaars
genooi Heidelberg toe waarvan Antoinette Pienaar se toneelstuk, Johanna, wat afspeel
gedurende die ABO, ‘n hoogtepunt was.
Soos julle weet was my nooiensvan Van As, en hier loop ek my toe vas in n stuk
geskiedenis van n jong man, Salmon Van As (23) Die insident word in talle geskiedkundige
geskrifte vermeld en is ook opgeneem in die Christiaan De Wet Annale. Ek en Kol Gerhard
Kamffer skryf toe n toneelstuk oor sy tragiese fusillering in Heidelberg net na afloop van die
ABO vir ‘n sogenaamde oorlogsmisdaad. Ek het die toneelstuk met groot sukses laat opvoer
deur jong toneelspelers in die ou tronk in Heidelberg waar hy as gevangene aangehou is
voor hy verhoor en ter dood veroordeel is. Die toneelstuk met teks en fotos is tans in veilige
bewaring in die argief van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria.
In 2000 is ek en Chris vreedsaam geskei agv van ons uiteenlopende belangstellings.
Op 45, word ek aangestel as lugwaardin by die destydse SAL te danke aan my twee
Europese tale, Frans en Duits, wat ek steeds magtig was. Ek word hoofsaaklik op die
London, Zurich, Frankfort en Parys vlugte geplaas, maar besoek vele ander lande en groot
stede. Wat ‘n voorreg en ervaring om op die wyse die wêreld te kon ontdek en beleef. My
gunsteling tydverdryf was om al die kunsgallerye in elke land te besoek en parfuum by die
duty free winkels te koop.
Op my aanvraag, word ek verplaas na Kaapstad Internasionaal na 4 jaar diens vanaf
Johannesburg Internasionaal
In my af tye verken ek die Wes Kaap en raak verlief op Montagu en sy pragtige berge. Ek
bedank by SAL en verhuis na die mooie Montagu.
Hier begin ek my eie besigheid, Die Boord,’n koffie / geskenke winkel in die hoofstraat.
Aangesien besigheid so gunstig was, was ek 7 dae per week oop.

Na 4 jaar verkoop ek die besigheid.
Ek trou met Clive Biden, ‘n kunstenaar. Ons was getroud vir n periode van 10 jaar
waartydens ons oa vir 3 maande in Parys gaan woon het -reg op die Seine rivier – en op n
plaas in die Langeberge gebly het.
Ek bied ook Franse en Duitse klasse aan vir volwassenes in Montagu.
Weer begin ek my eie besighede, ‘n skoonheidssalon asook n dames Boutique, Fleur de Lis.
Dit bedryf ek vir n periode van 16 jaar en reël gereeld modevertonings op aanvraag in
Montagu en omringende dorpe en tree soms op as gasspreker.
Ek is baie aktief betrokke by liefdadigheid veral ten bate van Alzheimer en Dimensie, wat my
na aan die hart lê. Ook hier reël ek gereeld funksies om fondse in te samel.
In 2019 bou ek vir my my eie huis in die berg wat ek verkoop na 3 jaar.
Daarna bou ek ‘n tweede huis – ook in die berg – waar ek tans steeds woon. Met beide
projekte was ek self projekbestuurder.
Ek behoort aan ‘n stap- en boekklub, doen stepklasse, behoort aan ‘n Franse groep wat
weekliks bymekaar kom, is n ywerige tuinier en geniet ons Vallei se uitstekende wyne.
Wat n voorreg om in die Langeberge te kan woon. Steeds, na 20 jaar in Montagu, verwonder
ek my nog aan die berge en rotsformasies wanneer ek deur my vensters kyk of deur die
tonnel ry.

Ek en my seuns
Ek en my seuns
Ek en my kleinkinders

One Response

  1. Louise ek het nou jou skrywe so geniet! Dit is net te wonderlik om weer terug in 1973 te wees! Ek hoop ons kan mekaar êrens weer raakloop!

Leave a Reply to Louisa de Flamingh ( Conradie) Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *