Lekker herinneringe van Herman van Vuuren

Ek het vanoggend hierdie storie van Herman gekry en lank en innig gelag. Geniet dit, terwyl ons nog aan hierdie “kant” van Saterdag se wedstryd is:

Uhuru manne.

Wie onthou nog AM van Schoor se praatjies net voor 7 in die aand?

Om weer die gesigte te sien met wie ek die wêreld gedeel het toe jare nog lank was, het soveel herrinneringe terug gebring.  Ons deel baie geskiedenis (met party 12 jaar en met een of twee selfs meer). Vir 5 jaar het ek elke oggend met my trapfiets voor Willem Theunissen se huis vir hom en Ben Lambrecht gewag voor ons saam die opdraende skool toe aangepak het. Dit is lekker herinneringe en dit was lekker om hulle weer te sien.  Ons behoort hierdie bladsy van herinneringe aan die gang te hou. Hier is my bydrae.

Die beauty van oud word, en amper die enigste,  is dat jy lekker kan lag vir dit wat jou vroeër erg verleë gelaat het.

Dit was in standerd 7 of 8 dat Mnr Goris die boek van Julius Caesar uitgedeel het. Hy wou blykbaar baie graag weet wat daarin staan en ons moes sommer dieselfde aand al ‘n stuk gaan vertaal. Ek het met ywer ingespring en soek die nuwe woord wat oral in die stuk voorkom, in die woordeboek: gallus / galli is hoenderhaan / hoenderhane. Ek was effens ongemaklik soos die vertaling vorder want dit blyk toe dat die Romeine  n spul hoenderhane vreeslik opgevoeter het. Dit was natuurlik  lank terug en hulle het nie slagpale soos ons gehad nie. In elk geval het ek net vertaal, ek het nie die storie geskryf nie. In elk geval, ek is toe klaar nog voor die Geheim van Nantes begin.

Die volgende dag begin Mr Goris voor in my ry en elkeen moet sy vertaling lees. Ek was al klaar ongemaklik met die voorlesery want ek was erg skaam maar toe De Vos, of wie dit ookal was, sy vertaling van die veldslag tussen die Romeine en Galliers lees, raak my ongemak byna onhoudbaar. Galli met n hoofletter was duidelik Galliers en nie hoenderhane nie. Dit tref my toe dat as ek my vertaling lees ek moonlik nie weer my gesig by die skool sal kan wys nie.  

Toe Mnr Goris langs my kom staan dat ek moet lees, kies ek oorlewing en vertel dat ek nie by die huiswerk uitgekom het nie. Gelukkig glo hy dit toe want, so jonk as ek was, het ek geweet dat hy nie sou glo dat soveel van die Wes Romeinse leer gesneuwel het terwyl hulle n spul hoenders slag nie.

Ek het nie met Engels groot geword nie. Toe my ouboet eendag aan tafel iets Engelsrig se, het my ouma (‘n konsentrasie kamp oorlewende)  gese:  “Sies Boetie, ons eet.” Ek het dus maar laag gelê in tannie Kate se klas en nie te veel Engels wys geword nie.

Dit was n hele paar jaar later dat ek en Melanie oppad was Kaap toe en ‘n vinniger kar se mense vir my wys dat my band pap is. Ek stop toe by een van die oranje telefone langs die pad en bel vir hulp. Die vroutjie praat Engels en wil weet waar ek is. Ek kon niks sien wat na ‘n baken lyk nie toe dit my tref dat ek ‘n ou verkyker in die kar het. Met nuwe moed sê ek toe vir haar: “Wait,” se ek, “let me get my farlookers.”

Hou die blad aan die gang, asseblief.

5 Responses

  1. Dankie Herman.

    Ek onthou dat iemand anders ook Galli as hoenders vertaal het – “die hoenders het die matrose met spiese aangeval”. Die persoon het Latyn einde std8 gelos.

  2. Lekker gelag vir jou vertelling!
    Ek het self n paar groot flaters begaan in die Engelse klasse by tannie Kate.
    My Pa was so bang ek druip Engels want dan sou ek standerd 10 moes oordoen want my Engelse punte was beroerd.
    Ek het dit naelskraap deurgekom met n D !

Leave a Reply to Pierre du Preez Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *