Karien (Scheepers)Polley se toespraak by geleentheid van ons 50-jaar reünie

Lekker om hier te wees en ek hoop julle geniet ons oorsig. 

Ek het altyd die gevoel dat ons gelukkig was met die era waarin ons gebore was. Van die nougesette Christelike,nasionale opvoeding wat apartheid op ons afgedwing het, tot die monumentale verandering wat ons in ons land beleef heten nog gaan beleef. Soveel vir die filosowe wat sê: ”may you live in interesting times!”

My eerste weke op Parkies was baie traumaties, en dit oor daardie blou hoedjie wat ons moes dra. Hoe hou jy so ʼn dingetjie op jou kop as jy fietsry skool toe? Ek het sonder ‘nhoed by die skoolhek ingery en het ʼn waarskuwing van ʼnprefek gery. Ongelukkig het ek teruggepraat en gesê dat ek nou net  ʼn prefek sonder ʼn hoed sien fietsry het! Om ʼn lang storie kort te maak, ek is voor die prefekte raad gedaag en moes die erekode … onthou julle die erekode … uit my kop leer. Daar staan ek toe een pouse, voor die lot prefekte wat my genadeloos laat hakkel en sukkel tot ek naderhand in trane was. Die uiteinde was ʼn gevoel van totale vernedering en ʼn weersin in kleingeestige reëls wat niks met opvoeding te doenhet nie. 

Dan was daar daardie blou skoolrompe wat ons meisies moes dra – die lengte, vier dwars vingers bo die knie. Maar die mini’s was mode so hoe nou gemaak? Party van ons was eksperts in rompvou. Daai rompie se middelband moes baie akkuraat gevou en weer gevou word, sonder dat die plooie plat lê en die romp nie bakstaan nie. Dit het tyd en vernuf geverg. Dit was groot pret om op die trappe, agter een van ons mede-rompvouers te loop en met twee hande die agtersoom van die romp by te kom en hard af te trek.  Dit het beteken dat sy laat was vir haar klas, want om met ʼn oudtydse lang romp gesien te word, was ondenkbaar. 

Dan was daar, wat Lulu noem, ‘’Om die Wêreld’’. Dit verwys na die ompaaie wat junior meisies gedrafstap  het, om met klaswisseling paaie te kruis, met van die meer senior seuns op wie hulle ʼn crush gehad het. As een “Londen” geroep het, het die groepie presies geweet watter pad om te loop. “Morocco of Sahara” was die kodewoord vir die huishoudkunde-gebou, want daar was geen mans nie.  Partykeer moes ons behoorlik uit ons pad gaan vir die thrill om net by ons hero’s verby te loop.   Julle sal onthou dat ons nie met klaswisseling ‘n short cut oor die vierkant mag geneem het nie.  Ons moes in die gange om die vierkant hou. Mr Schreuder was lief om  in die vierkant te beman, so om jou doel te bereik het spoed en vernuf geverg. 

Onthou julle die naweek toe die skool se brandblussers leeg gespuit is en die gange vol wit skuim was? Die absolute stilte daardie Maandag in die skoolsaal, toe die hoof gevra het vir inligting wat kan lei tot die aankeer van die skuldiges? Wel daar is baie gefluister oor wie en wat … maar sover ek weet en kan onthou, is die sondebokke nooit aangekeer nie. Dis lojaliteit en solidariteit vir jou.  

Ek was nie akademies ingestel nie. My ma het gereeld gekla,dat sy nooit by die Waterkloof tea parties, waar almal se kinders dan kastig so slim was, met ons kon spog nie.   Sy het ons, my broer Gerhard en sussie Mariana, in haar swaar Karoo-brrry, daarvan beskuldig dat ons … ‘n lot dom donderrrs  …” of  “die sestigerrrs “ was.   Nieteenstaande was Emmie Keet vir my die mees uitstaande onderwyseres. Sy het Aardrykskunde opwindend aangebied en ons geleer om vir onsself te dink. Dankie juffrou Keet.

Sport was my lewe. Vir 9 maande van die jaar het ek elke middag saam met die ander spanmaats, atletiek gaan oefen.  Die kameraderie op die baan, die wonderlike vroegoggend busritte en somtyds treinreise na atletiekbyeenkomste, die pret en die vryery agter in die bus!  Dankie vir almal, die onderwysers, en die van julle wat daardie oefenmiddae so lekker gemaak het. Dieselfde kan ek sê van hokkie. Dankie dit was heerlik. Deur sport het ek geleer dat talent 20% tel , dat jy net moet opdaag en doelgerig oefen en as jy dink jy kan nie meer nie, dan is daar altyd daardie bietjie oor om nog te gee. 

En dan was daar die garage-partytjies!  Ek onthou dat ek seker gemaak het, dat ek 11 uur, as my pa my kom oplaai het, by die voorhekkie of op die sypaadjie was, sodat my Pa nie kon sien wat alles daar aangaan nie!

Dankie vir almal wat deel was van daardie tydperk in ons lewens. Ek besef ook dat ons dankbaar moet wees vir die omgewing waarin ons grootgeword het, die ekonomiese- en kulturele geleenthede wat ons gegun is en ons ouers wat dit moontlik gemaak het. 

Dankie almal. 

Karien

One Response

Leave a Reply to Annette Pretorius Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *