Jeanne Viviers

Ek lees al die mooi herrinneringe wat julle van julle skooldae gehad het en verstaan ook beter. Ek was ‘n ‘inkommer’ en was net my laaste 2 jaar deel van Menlopark Hoër. Dit was vir my redelike traumatiese jare gewees aangesien ek – vanuit ‘n plattelandse dorpie – min verstaan het van die sosiaal, kultuur en ook die effense vreemde Afrikaans.

Ek het weer my voete gevind op Universiteit en het my B.Sc (Ed) graad met lof geslaag. Later jare het ek my B.Ed (Hons) by Unisa gedoen. Ek was woonagtig in ‘n klein dorpie (Warden), was swanger met my derde kind, was ‘n Natuur- en Skeikunde onderwyseres en het elke dag 35 km grondpad skooltoe en terug gery. Ek het die graad met lof geslaag en ook Unisa se Senaatsmedalje vir beste student verwerf. Hierdie is werklik nie spog nie…… Ek dink net terug aan ‘n tyd toe ons almal so jonk en energiek was om al hierdie dinge gelyk aan te pak…… 

Ek is in 2004 geskei en het teruggekom na Pretoria. Jakarandastad. Die mooiste stad met die beste klimaat. Ek het in 2005 my M.Phil (PPL) by UJ gedoen. Dit was glad nie werksverwant gewees nie en was sommer net vir die pret. Ek het vir ‘n tyd twee beroepe gehad: Skoolgehou en in die mediese fonds industrie begin werk. Vanaf 2005 – tot nou toe – is ek nog ‘n mediese fonds konsultant.

In 2012 het ek vir 6 maande in die Karibbiese eilande gaan seil. Leeward Islands en Windward Islands. Van Granada, toe Suid na Trinidad en toe weer Noord tot by die British Virgin Islands. Ek het toe ook die voorreg gehad om in Kuba te draai. Ek reis graag. 

Ek bly ‘n katspoeg van Menlopark Hoërskool af. Eastford Park: My agterwerf grens aan Tuks se proefplaas en ek word soggens wakker met die geluid van voëls en trekkers in die agtergrond. Ek besit ook ‘n plekkie in Calitzdorp (in die Klein Karoo) en “commute” tussen my twee tuistes. Ek kom Pretoria toe vir jong energie en gaan Calitzdorp toe vir wyn, spekbos en baie suurstof. Ek sal moontlik in Calitzdorp wees tydens die reunie, maar ek is redelik impulsief oor my kom en gaan. 

Ek het drie kinders. My dogter, haar man en my kleinkind bly ‘n wonderlike 200 meter van my af. Tim (my kleinkind) is nou ‘n Menlomater en volgende jaar in Menlo Laer. My oudste bly in London. Hy en sy vrou het ‘n “Illustration an Animation” besigheid. My jongste is in Vancouver. Hy en sy vrou het meestal net pret en doen “extreme sport” in die berge, in die woestyne en in die sneeu. 

NS: Wat ek onthou van my 2 jaar in Menlopark Hoërskool is ons Biologie onderwyseres (ek kan net haar bynaam onthou!), Elmarie Vermooten en Gretha van der Merwe (en haar broer Gerhard). Ek wonder baie keer oor hulle. 

In retrospek dink ek steeds – al is ons almal nou op pad 70 toe – dat ons op ‘n relatief goeie ouderdom is. Miskien is daar ‘n kans dat ons oor 10 (/miskien 20) jaar gaan terugkyk en dink: Hoe jonk en mooi was ek toe… 

2 Responses

  1. Hallo Jeanne
    So lekker om jou storie te lees! Ek is n bietjie jaloers as ek van jou 2012 jaar lees!!
    Gerhard vd Merwe is n Narkotiseur in Kanada. Ek ht nog kontak mt sy vrou Belinda. Van Greth weet ek nie!
    Groete
    Louisa

  2. Haai Jeanne Gretha het landskapsargitektuur op Tukkies gestudeer en is met Coenraad Bezuidenhout getroud wat ook saam met ons in matriek was. (hulle het herontmoet by een van ons matriekreunies) Hulle woon in Stellenbosch. (Gaan kyk op Facebook). Ons Biologie onderwyseres was juffrou Danelle Niehaus (sover my kennis en geheu strek) Die einste sanger Danie Niehaus (wat saam met my op Potch was) se ouer suster. Wat van Elmarie Vermooten geword het, weet ek nie.

Leave a Reply to Martjie Roos Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *