Jan van Loosen kry pak, en ‘n onnie ook

 As die oudste van vyf kinders (almal in Suid-Afrika gebore) in die immigrantegesin van Loosen uit Holland, het ek my aangemeld by Menlopark Hoërskool op die eerste dag van die vierde kwartaal van 1970 in standerd 7. Die eerste 3 kwartale van daardie jaar was ek leerling van Pinetown Hoërskool en was een van my vakke Aardrykskunde. Toe ek sien wat ek moet inhaal vir Aardrijkskunde, het ek dit gelos as vak en besluit om Handel te vat in die plek daarvan, moontlik gebaseer op die feit dat ek al sedert my 8ste jaar altyd gehelp het in winkels en al vroeg ‘n handelaartjie was. Die eerste dag in die klas van Mevr. van der Walt het ek myself voorgestel (nog in skooluniform van Pinetown) en gesê dat dit die eerste kennismaking was met die vak Handel wat sy gegee het en dat ek so vinnig moontlik die jaar sal gaan inhaal. Die volgende keer in haar klas begin Mevr. van der Walt vrae te stel aan die leerlinge en as jou antwoord verkeerd was, moes jy bly staan. Natuurlik het ek die antwoord nie geweet nie en was ek een van die ‘staanders’. Gelukkig kry ons toe nog ‘n kans, maar weer was ek slagoffer. Die kinders wat ook die tweede kans nie kon benut nie, het toe van haar die keuse gekry om die ‘straf’ by die skoolhoof te reël, of te kies vir afhandeling in die klas. Laaste opsie was natuurlik die keuse van die betreffende leerlinge. Wat ek, as ervaringsdeskundige van lyfstraf op skool, nie geweet het nie, is dat Mevrouw van der Walt lyfstraf toedien met ‘n stuk tuinslang. Nie slae op jou boude nie, maar agter op jou bobene. Sy ‘swipe’ toe daardie tuinslang met die nodige venyn met as resultaat dat my bobene agter lyk soos ‘n sinkplaatpad. Nou sou ek nooit aan my ouers vertel dat ek lyfstraf gehad het nie, want dan moes ek ook vertel waarvoor, en dit sou kon resulteer in aanvullende straf tuis. Dit was nou mos lente en vir die eerste keer het ons ‘n huis met ‘n swembad gehad, dus elke middag lekker geswem met pelle en buurkinders. My Ma sien toe die sebrastrepe agter op my been en ek vertel toe die storie. Toe my Pa dit saans hoor, het hy die volgende dag, sonder dat ek daarvan geweet het, ‘n draai by die skoolhoof gaan maak om te sê dat hierdie manier van straf ongepas was.
Die ander kant van lyfstraf het ek ook ervaar êrens in standerd 8 of 9 by Godsdiensonderrig, gegee deur ‘n meneer waarvan die naam my ontglip het (hy het ook sportonderrig gegee) en sy klas was in ‘n losstaande gebou naby die sportgronde/stadium. As kerkgaande seun met katkisasielesse het ek die toetse met sukses gedoen, maar daar was ‘n paar klasgenote wat by ‘n toets nie voldoende Bybelkennis besit het nie. Die gevolg was weer dat hulle, op voorstel van die onderwyser, ‘n pak slae met die rottang gekry het; een hou vir elke fout. Toe ons later die toets terugkry, het een leerling 5 korrekte antwoorde gegee wat deur die onderwyser as foutief beoordeel was (ook ‘n onderwyser maak foute). Die leerlinge het toe eensluidend voorgestel dat die desbetreffende leerling (gaan nie name noem nie) die onderwyser die 5 onteregte houe moet teruggee. Die onderwyser was sportief genoeg om in te stem en het voor die klas gebuk. Nog nooit het ek ‘n seun van 15 of 16 jaar soveel krag in ‘n slag sien lê nie. Na die eerste hou skiet die onderwyser regop met ‘n bleek gesig maar die uitdeler sê ‘buk meneer’ en daar volg toe nog 4 voltreffers. Daarna was hierdie onderwyser ‘n stuk milder in die toediening van lyfstraf.

3 Responses

  1. Baie snaaks Herman !
    Ek dink die onderwyser was dalk Abel – hy het vir ons Bybelkunde gegee in een van die los klasse voor by die sportvelde.
    Ek kan nie sy regte van onthou nie.

Leave a Reply to Herman Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *