Henning Pieterse

Sommige verbintenisse verdwyn nooit nie! Dit geld beslis vir my verbintenis met Menlopark Hoërskool (trouens met die Laerskool ook) en met die 73ers wat saam met my op skool was.

My hoërskooljare was ‘n hoogtepunt in my lewe en het so ‘n indruk op my gemaak dat die 5 jaar werklik baie langer voel as wat dit was. 

Die indrukke wat ek van my 5 hoërskooljare het, is grotendeels as gevolg van die invloed wat die 73ers op my lewe gehad het – en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek is bevoorreg om na 50 jaar steeds gereelde kontak te kan he met 73ers wat saam met my in Graad 1 in Menlopark Laerskool was.

Na matriek was ek ‘n jaar in die Lugmag met Diensplig, en daarna studeer ek by Tukkies en verwerf die grade BA (Hons) LLB, LLM. 

Daarna is daar twee fases in my professionele loopbaan:  Ek sluit in 1980 aan by Buitelandse Sake, dien as Vise-konsul in New York tot 1984, daarna as sekretaris van die Adjunk-Minister van Buitelandse Sake (tot einde 1985), Regsadviseur by Buitelandse Sake (1986 – 1990) en vanaf 1991 tot 1995 as Minister-Raad (tweede in bevel) by die Ambassade, Moskou.  Aan die einde van 1995 sluit ek aan by Bissets prokureurs in Kaapstad en word ‘n vennoot by die firma in 1998, waar ek steeds in die Kommersiële Departement praktiseer. 

Ek is getroud met Kirstin van Tonder wat tale en kunste by UNISA studeer het en baie jare in die museumbedryf en by die Nasionale Erfenisagentskap gewerk het.  Ons dogter Lara is in 2008 gebore. Sy is ‘n leerling by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en is ‘n kranige violis en ballerina.  In my vrye tyd swem ek en wanneer ons kan, reis ons of spandeer ons tyd by ons strandhuis op die Kaapse Weskus.

Hier is ‘n foto wat ek (Koos Marais) van Henning geneem het toe ons nog op laerskool was, met ander woorde meer as 55 jaar gelede. Destyds het self my foto’s ontwikkel en gedruk, en hierdie een ook. Ek beoefen steeds fotografie, maar nou gebeur alles digitaal.

2 Responses

  1. Henning was ons onderhoofseun en hy staan aan die hoof van ons reëlings vir die reünie van 25 en 26 Augustus 2023.

  2. Baie dankie Henning vir al jou harde werk met die reunie beplanning en kommunikasie!

Leave a Reply to Richard Dinkelmann Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *