Boodskap van Henning Pieterse aan leerders op Vrydagoggend 25 Augustus 2023

Henning Pieterse, onderhoofseun van 1973 het ‘n kort en kragtige boodskap aan die skool gebring. Hy sê dit was nie ‘n voorbereide toespraak nie en het spontaan uit sy hart gekom:

“Mnr Reynders, Mnr Erasmus, dames en here, Menloparkers

Toe ek vanoggend my Parkie-das weer vir die eerste keer in 50 jaar knoop, dink ek terug aan wat vir my die belangrikste van my skoolloopbaan by Menlopark was.  Wat staan vir my uit van die vyf wonderlike jare by die Hoerskool Menlopark?

Ja, ons het Afrikaans, Engels, Wiskunde, Aardryskunde, Geskiedenis en talle ander akademiese vakke bestudeer.  Ons het toetse en eksamens geskryf.  Soms het ons goed gedoen, en soms het ons minder goed gedoen.

Ja, ons het ook sport gedoen.  Rugby, atletiek, swem, hokkie en netbal.

Dan het ons ook aan kulturele bedrywighede deelgeneem.  Ons het aan debatte deelgeneem, konserte gehou en in die Menlovariakoor gesing.

As gevolg van al die aktiwiteite en ervarings by Menlopark is hier vandag ‘n hele klomp geleerde en suksesvolle mense.  Onder andere professore, dokters, ingenieurs, eienaars van hul eie besighede, en advokate en prokureurs.

Maar, as ek een iets moet uitlig wat vir my die heel belangrikste is, is dit die vriendskappe wat ons hier by Menlopark Hoerskool gesmee en gebou het.

My advies aan julle is:  bou vriendskappe en versorg en vertroetel daardie vriendskappe.  Hoe ouer julle word, hoe belangriker word daardie vriendskappe.”

Eintlik was Henning se boodskap ‘n opsomming van wat ons die naweek gedoen het. Ons het ou vriendskappe hernu. Ons het opnuut besef hoe kosbaar daardie vriendskappe is. Wat nou? Ons kan nie anders nie. Ons moet aanhou hard werk daaraan. Dit is hoekom hierdie webblad sal aanhou bestaan. Dit bied vir ons ‘n platform waarvandaan ons Henning se boodskap kan lewe gee.

One Response

Leave a Reply to Annette Pretorius Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *