Annette (Zietsman) Pretorius

Ek woon in Port Elizabeth sedert 1981. Ek het ná skool B.A.(Ed) studeer by die Universiteit van Pretoria en toe Engels Tweede Taal gegee by Pretoria-Wes Hoërskool en tennis en hokkie afgerig.

Ek en Ockert (Neil) Pretorius het jonk getrou. Hy was ook op Menlopark, 1972 in matriek. Hy het tandheelkunde studeer by die Universiteit van Pretoria, dieselfde tyd as Koos Marais (voor Koos gespesialiseer het).

Ons het Simonstad toe getrek waar Ockert vir SA Geneeskundige Dienste gewerk het, by die Vloot se siekeboeg.
Ek het artikels geskryf vir die plaaslike koerantjie en Afrikaanse lesse gegee en na ‘n ruk ‘n wonderlike werk gekry as vertaler by die Vloot se Taaldienste. Ek kon nie glo ek kon werk doen wat soos koek gesmaak het en hulle het my betaal daarvoor! Dit was meestal Afrikaans en Engels, maar ek het ook redigering gedoen van Franse en Duitse vertalings. Ek het Frans en Duits vir matriek en op universiteit studeer. Tale was altyd my eerste liefde. Die onderwys is gedoen as versekering dat ek werk sou kry!

Ons het Port Elizabeth toe verhuis waar Ockert ‘n privaat-praktyk bedryf het. Ek was ‘n biblioteek-assistent by Walmer-biblioteek totdat ons identiese tweeling, Neil en Paul, in 1982 gebore is. Daarna het ek kinders grootgemaak totdat hulle bietjie groter was en toe verskillende deeltydse stukwerk gedoen terwyl hulle in die skool was, o.a. veldwerk vir ‘n marknavorsing-maatskappy en toesig gehou by Unisa-eksamens in ‘n saal met yslike vensters wat op die see uitkyk, lekker! P.E. het sy voordele!

In Port Elizabeth het ek en Loraine Wessels Copeland mekaar onverwags her-ontmoet toe ons ons eerste babas verwag het!

In my veertigs is ek terug universiteit toe (Universiteit van Port Elizabeth, nou Nelson Mandela Universiteit) om sielkunde te studeer. Ek het ‘n Geregistreerde Berader geword (Registered Counsellor) en ‘n klein privaatpraktyk bedryf asook nege jaar vrywillige werk vir Lifeline gedoen.
As enigiemand wenke wil hê oor hoe om “Niks” geld te maak nie terwyl mens baie hard werk, kontak my gerus!

Ons seuns is nou 40. Paul is ‘n bankier in Johannesburg en Neil is ‘n Kliniese Sielkundige in Wellington, Nieu Seeland.
Paul het met sy skoolliefde Shelley getrou en hulle het ‘n pragtige dogter en seun, 13 en 10.

Ek het in Port Elizabeth by die Alliançe Française aangesluit vir Franse lesse en deelname aan kultuurdinge. Dis goeie breinstimulasie! Daar is kunsuitstallings, kooklesse, poësie-feeste, ens.

Ek het tennis gespeel totdat alles te veel begin pyn het 😄 en “kuns”-lesse geneem (“craft”). Ek was maar vrotterig, maar dis ‘n goeie uitlewing van kreatiwiteit en emosionele dinge. Ek dink ek moet weer begin. Woorde en prentjies is my “ding”.

My en Ockert se paaie het geskei. Ons is vreedsaam uitmekaar. My pa sou sê “hulle het mekaar lewend verlaat”. 😄

Ek is nou verloof aan John, ‘n Amerikaner, en ons wag (ongeduldig!!) vir my K1 Fiançé(e) Visa sodat ons in die VSA kan trou en ek daar mag woon (in Ann Arbor, Michigan). Dis een uur se ry van die grens met Kanada.
John is ‘n baie goeie en intelligente man, baie aangenaam en ons deel baie belangstellings. Wie sou kon dink mens kan so verlief wees op 66, 67?! 
Duimvashou en gebede vir daai Visum is baie welkom asseblief!

Intussen hou my honde my besig en ek behartig twee Facebook-groepe. Ja, ek is ‘n Facebook-tannie 😄. Marieta van der Vyver (Menlopark matriek 1975, saam met Koos se vrou Ingrid) praat van “vuisboek”! 😄
Die groepe is darem intellektueel en kultureel van aard! Dis ‘n “Quotes”-groep en ‘n Collage-groep. Harde werk, maar stimulerend vir die “grys stof” en baie interessant, aangesien die groeplede van oraloor is, alle vastelande en eilande! 

Baie groete en beste wense aan almal!

One Response

  1. Anette jy het sowaar n “vol” lewe gely!
    Ek hoop jy is baie gelukkig in Amerika. Ons jongste -Alida-, woon ook daar en werk by die Universiteit van Illinois. Dit gaan weer n hele nuwe ervaring vir jou wees!

Leave a Reply to Louisa de Flamingh ( Conradie) Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *