Ek is ‘n gebore Pretorianer. Ek was in Lyttelton op Laer- en Hoërskool tot 1970 en ons het toe Pretoria-Oos toe verhuis, waar ek vanaf 1971–1973 op Menlopark was. Dit was drie baie gelukkige jare van my skoolloopbaan. Na skool het ek by die Universiteit van Pretoria my BA(LO)Hons en HOD gedoen. Ek was toe saam met Henning in New York vanaf 1980-1984. Daarna het ek en ‘n vennoot ‘n Vrouegimnasium gehad vir 5 jaar, waartydens ek ook ‘n deeltydse pos by die Sportinstituut by Tuks beklee het.
Ek was vanaf 1990–1992 in Nelspruit en het toe terug verhuis na Gauteng toe waar ek die laaste 30 jaar woonagtig is in Carlswald, Midrand. Ek het vir 25 jaar in twee Maatskappye al die finansies hanteer en dit toe vaarwel geroep.
Ek het my Sportloopbaan voortgesit na skool en het Tuks en Noord-Transvaal verteenwoordig met atletiek en landloop. Daarna het ek oorgeskakel na Half- en Marathons en later na Comrades & Ysterman vanaf 1984-1990. Vanaf 1990-2000 het ek baie kompeterend deelgeneem aan fietsry en 200 000 km gery. Later jare het ek betrokke geraak by Hondesport in verskeie dissiplines. Ek het Suid Afrika verteenwoordig as die spanbestuurder by die Agility Wêreldkampioenskappe in Spanje en Switserland en was betrokke met die organisasie en deelname aan die Agility Wêreldkampioenskappe in Suid Afrika in 2013 (dit is hoekom ek ons laaste reϋnie gemis het). Ek het Suid-Afrika ook verteenwoordig en deelgeneem in die Verenigde Koningkryk by Crufts Internasionaal. Sedertdien neem ek nogsteeds baie kompeterend deel aan Agility op provinsiale- en nasionale vlak.
Ek was nogal altyd gefassineerd met Biofeedback, ‘n program wat NASA gebruik vir die ruimtevaarders. Ek het in 2021 besluit om áanlyn te studeer by die Quantum Akademie in die VSA. Ek het huidiglik ‘n klein praktyk by my huis en het groot sukses daarmee, veral met diere.
Dit was wonderlik om ‘n paar van ons skoolvriende te sien met die laaste Zoom vergadering en ek sien baie daarna uit om al die ou bekendes weer te sien met ons reϋnie.