Stories van Menlopark

Onthoustories: Mej. Pretorius

’n Legende van Menlopark en haar keeshond

Op hierdie blad wil ons graag al ons onthoustories vertel. Ek gaan begin deur ’n storie van Mej. Pretorius te deel, en nooi sommer almal uit om ook by te dra. Stuur jou storie aan kosiemarais@gmail.com, en ek sal dit hier plaas totdat ek ’n manier gevind het dat almal self kan saampraat.

Mej. Pretorius was — en is steeds — ’n ware Menlopark-legende. Sy het ’n keeshond gehad wat elke dag saam skooltoe gekom het. Haar vak was Duits.

In standerd ses moes ons almal twee keusevakke kies. Myne was Duits en Latyn. Baie gou het ek ’n groot liefde vir Latyn ontwikkel — ’n liefde wat ek nie met Duits gedeel het nie. Trouens, ek het die ou vakkie sommer heeltemal geïgnoreer.

Aan die einde van die eerste kwartaal het ek 98% vir Latyn en 48% vir Duits gehad. Mej. Pretorius roep my toe na vore in die klas en trap my behoorlik uit voor almal. Sy sê vir my dis onmoontlik om sulke uiteenlopende punte vir twee vreemde tale te hê en dat ek my sokkies moet optrek.

Ek het geluister — en begin Duits swot.

Vir die volle vyf jaar van my loopbaan op Menlopark het sy vir my Duits gegee. En weet jy wat? Ek praat dit steeds vandag.

Die foto is sowat drie jaar gelede geneem toe ons paaie weer gekruis het. Sy het later die hoof van Helpmekaar Hoërskool geword — ’n wonderlike vrou.