Rouline Louw

Rouline Louw ~ (21.08.1955 – 06.06.2023)

Rouline is gebore in Outjo in die destydse Suid-Wes-Afrika. Haar pa, wat as ingenieur by Stellenbosch gekwalifiseer het, het in daardie tyd met Afrikaner-beeste geboer. Sy het daar begin skoolgaan, maar na die uitbreek van bek-en-klouseer het haar familie terug Republiek toe getrek en hulle het hulself in Pretoria kom vestig. 

Rouline was eers in Menloparkse Laerskool en daarna, vanaf Standard Ses in Menloparkse Hoërskool. Ek dink sy was deurgaans een van die stoutgatte, en was onder andere een van die dirigente saam met Anne Greeff en Lynette Botha. 

Na skool het sy ook na Universiteit Stellenbosch gegaan, maar dit was eerder (in vandag se terme) ‘n “oorbruggingsjaar” op my pa se onkoste. My pa het geweier dat sy terug US toe mag gaan, en gesê sy sal eerder dat ‘n sekretariële kursus moet doen. Haar kop het egter gestaan om oor die wêreld te reis, en sy besluit toe om eerder ‘n lugwaardin te word. Sy het letterlik orals oor gevlieg. In “die ou dae”  was vlugte Australië, Hong Kong, Spanje, Rome, en New York, maklik 10 na 14 dae lank. Hulle het dan dikwels as groepe bemanningslede orals oor vakansie gehou terwyl hulle gewerk het. Hulle het eintlik meer partytjie gehou! In November 1987 sou sy en ‘n groep lede saam ‘n vlug aangevra om saam Taiwan toe te gaan. Die dag voor die vliegtuig sou vertrek het, moes Rouline ‘n klein mediese prosedure ondergaan het, en moes toe van die vlug onttrek het. Dit was die rede hoekom sy nie op die verdoemde Helderberg Boeing was nie.

Rouline se gesondheid het begin probleme gee, hoofsaaklik emfiseem en hartversaking. Sy is in 2013 weens swak gesondheid op vroeë pensioen gesit. In 2015 het sy ‘n beroerte gekry wat haar vir 8 jaar lank ‘n baie erge lewe laat lei het. Sy kon nie meer met sin praat nie, en haar beweging was maar baie beperk. Gedurende dié tydperk was sy dikwels in die Hoësorgeenheid van Kloof Hospitaal. In Junie 2023 is sy verlos van haar lyding. 

Sy het altyd gesê: “Ek lei eerder kort maar baie lekker lewe as wat ek ‘n lang moeilike lewe moet lei!”

Rouline is nooit getroud nie, en het ook geen kinders gehad nie. Sy het in Wingate Park gewoon.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *