In 1968 verhuis my ouers met Swaziland se onafhanklikheidswording Pretoria toe, waar my pa as
Polisiekapelaan begin werk. Ek moes die volgende jaar Hoërskool toe en gelukkig besluit my
ouers om my by Menlopark H/S i.p.v. Affies in te skryf. As plattelandse meisie was Menlopark goed
vir my. Ek het daar gou geleer dat jy jou romp by sy rek oprol om korter te word en dat die strikkie
aan jou hemp nie deel van skooldrag was nie. ….. en ‘n paar jaar later dat jy nie in matriek met die
hoed wat jy in St6 gekoop het , opeindig nie.
Na 50 jaar kan ek nog steeds die name van al my matriek onderwysers onthou. Ek onthou nog goed
hoe Niek en Andre in mnr. Immelman (Charlie) se Afrikaanse klas die een of ander snaaksigheid
aangevang het! Persoonlik was dit vir my wonderlik om by Mnr. Anton Muller kuns te kry. Daar
het ek vir die eerste keer van die “De Medici’s” gehoor en die woord “kitch” geleer.
Mnr Muller het in St 8 (Graad 10) na ‘n vakansie in Mosambiek besluit om ‘n boot te bou. (en ek
vermoed om daarmee om die wereld te seil) Hy het in St 8 en St 9 gereeld tydens kunsperiode vir
Etienne de villers en Dirk Bezuidenhout Hatfield toe geneem om te help bou aan sy boot. Einde St 9
was sy boot gebou en het hy ons verlaat. Juffrou Kotze was in matriek ons kunsonderwyseres.
Nog iets wat my gereeld laat glimlag was Recht Hiemstra en Piet Koornhof wat mekaar gereeld onder
Mnr Peach se aansporing in die geskiedenis klas aangevat het oor politieke sake. Dit was so
welkom – dan het ons nie klas gehad nie!
Die swembad is ook 1973 ? in ons tyd op hoërskool gebou.
Onthou julle nog die tradisie onder die meiseis om ‘n blom vir jou verjaarsdagpel aan te steek en
hoe die verjaarsdagmeisie dan heeldag met ‘n klompie ruikertjies aan haar klere rondgeloop het ?
(Wonder wat vandag se kinders daarva sou sê ?!)
Na matriek is ek Tukkies toe waar ek in 1977 my Beeldende Kunste graad en in 1978 my H.O.D.
verwerf het. Ek het daarna by verskeie skole skoolgehou. In 1981 is ek met Jan de Flamingh
getroud. Ons het onsself in Rustenburg gevestig waar ons vir 40 jaar gebly het. Op daardie stadium
was J.A.L. van Zyl (sy pa was ons hoof in St 6 ) Gerhard van der Merwe en Sias Grobler – – Aldrie
oud Parkies, mediese spesialiste in Rustenburg en Phillip Snyman ( Shortie se broer) ons tandarts.
Jan en ek het drie kinders en drie kleinkinders wat in Kanada en Amerika woon.
Tydens Covid verhuis ons met ons drie honde, drie “African Grey’s” en ‘n pou na die Weskaap en
vestig ons in Wildernis.
Ek sien baie daarna uit om julle almal weer te sien Louisa de Flamingh (Conradie)






















