Koos Marais

Langs my kronkelende lewenspad kon ek gereeld terugkyk na dit wat die Hoërskool Menlopark vir my beteken het. Natuurlik het ek dit destyds nie genoeg waardeer nie, maar elke dag raak ek al meer bewus van die invloed van my onderwysers en maats op my lewe. Ek het na skool tandheelkunde gaan swot en praktiseer al sedert die einde van my twee jaar diensplig in Pretoria, met ‘n twee jaar onderbreking toe ons in 1990-92 in Engeland vertoef het. Op skool het mevrou Mostert, wat vir ons Afrikaans gegee het, gedink ek kan goeie opstelle skryf. Dit het tot my groot liefde vir skryf gelei, waarmee ek steeds besig is. Ek het in 1985 die tydskrif die SA Jagter/Hunter begin en dit geskryf en uitgegee vir vier jaar. Die tydskrif verskyn vandag steeds. In 1992 het ek deeltyds begin klasgee by Tuks en baie wetenskaplike artikels en selfs ‘n teksboek of twee geskryf. In 2001 het ek geleer vlieg en later is ek verkies tot president van AOPA-SA, die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging. In daardie hoedanigheid het ek my 15 minute van roem gehad toe ek in 2010 in direkte konfrontasie met die SAPS, SA Lugmag, Burgerlugvaart en die regering beland het. Ons het baklei oor vlieëniers se reg om te vlieg tydens die sokker Wêreldbeker. Ons het gewen. Ek was gelukkig genoeg om my vlieëniersloopbaan lewendig te oorleef en het my al meer op skryf toegelê. Ek het verskeie boeke gepubliseer. Die lekkerste was Die Leeuvanger van Nossob, Elias le Riche. Dit was natuurlik die lewensverhaal van daardie wonderlike Kalahari pionier. Tussen 1987 en 1990 het ek vier Comrades marathons gehardloop. Deesdae skuifeldraf ek nog elke oggend deur Silver Lakes se strate. Ek en Ingrid, neé Doms, wat twee jaar na ons op Menlopark was, is vanjaar 47 jaar getroud en ons is toegewyde fotograwe. Ons behoort aan dieselfde klub waaraan ek behoort het toe ons op skool was. Ons het twee kinders, Soekie en Gunther wat albei naby ons bly. Gunther is met Su-an getroud en hulle het twee wonderlike, pragtige, slim, voorbeeldige en geniale kinders, Jacobus, (wat anders?) en Jana-Ingrid. Diegene wat regtig verveeld is kan na op my webblad gaan kyk of op Facebook kuier. Ek plaas ook ‘n skakel na ‘n jagvideo wat ek verlede jaar gemaak het, net om te kyk of dit werk. As jy nie van jag hou nie hou jou oë toe.   

2 Responses

  1. Sjoe Koos – wat ‘n merkwaardige lewensverhaal!
    Jy het baie uiteenlopende talente en belangstelings.
    Ek sien baie uit om saam met jou en Ingrid te kuier!

    1. Likewise Richard. Dit is alles genade van Bo. Met die voordeel van terugskoue is dit maklik om die Here se hand deur dit alles te sien. Ek is dankbaar dat die “trots” van my “teerder jeug” soos die “goue akkerblare” verdwyn het (NP van Wyk Louw).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *