Aloha Parkies
Dit was lekker om na die video van die reünie te kyk en om julle stories op die webblad te lees!
Ek was ‘n maand na die reünie in Suid Afrika om by familie en vriende te kuier. Ook om my dekades-lange droom om ‘n luiperd in ‘n boom te sien, te probeer verwesenlik.
Parkie herinneringe
Voordat ek die laaste kwartaal in St 6 ‘n Parkie en Pretorianer word, bly ek in Oranjemund, Lichtenburg, Johannesburg, Kaapstad, en weer Johannesburg. Parkies was my sesde skool.
Ek onthou Tannie Kate, wat my soms Bennie genoem het, en dan gesê dat sy weet my naam is nie Bennie nie! Ons was drie linkshandige Johanne in haar klas: Johan van Schaik, Johan (Mossie) van der Merwe, en die uwe.
Ek het goeie herinneringe van Mnr. Visser (wiskunde) en Mej. Du Toit (wetenskap). Mnr. Peach se raad kort voor die geskiedenis eksamen oor wat om te ‘spot’ onthou ek tot vandag: “Die Onse Vader!”
Daar was Mnre Brits en Goris en hulle orkes wat ouers verontrus het, en Mnr Gerber, wat ons verontrus het – ek kon nooit uitwerk hoe om ‘n langspeelplaat agteruit te speel nie!
Mnr. Martins, met sy borselkop en rottang wat rooi-blou strepe op jou sitvlak gelaat het, het op ‘n ander manier ‘n indruk nagelaat! Dit was ‘n ander era!
Tukkies
Ek skop ingenieurswese op om na Stads- en Streekbeplanning oor te slaan.
My Stadsraad van Johannesburg beurs betaal klasgeld plus R50 per maand. Dit hou my Volla, wat R900 gekos het, aan die loop. ‘n Tenk petrol was omtrent R2. Ek kon fliek, uit-eet, en die langspeelplate waarteen Mnr. Gerber ons gewaarsku het, koop.
‘n Tukkie herinnering is Prof Flip Smit (Departementshoof Geografie en later Rektor) op sy knieë in die parkeerterrein by God’s Window, waar hy ‘n gas-stofie aanmoedig om water te kook sodat ons koffie kon maak om onsself te probeer ontvries. Hy gee uiteindelik op met die woorde “Boys, hiergdie ding is in sy moerg in!” Ek loop hom jare later in die Volkskas in Lynnwoodweg raak, so vriendelik en gemoedelik soos ek hom onthou.
Diensplig
Ek doen basiese opleiding in Ladysmith. Vir ewig in my onthou is 2000 troepe in tente wat teen sononder saam met tientalle transistor radios sing: “Some girls will, some girls won’t.”
Na ‘n offisierskursus in Voortrekkerhoogte beland ek by die Hoof van Staf Logistiek. Terwyl die troepe op die grens die land veilig hou, lanseer ons papier-vliegtuie vanuit Poynton’s oor Kerkstraat. Vandaar word ek na Leer Hoofkwartier se Direktoraat Beplanning gesekondeer. Daar leer ek dinge wat nie in koerante of op TV verskyn nie, en waaroor jy nie mag praat nie.
8 tot 5
Daarna terug na die Stadsraad van Johannesburg. Vandaar werk ek by ‘n Randburgse konsultant-firma, gevolg deur ‘n junior vennootskap in ‘n firma in Sandton.
Skaars dertig, maak die gedagte dat ek vir nog drie dekades met die burokrasie gaan stoei, my ander weivelde soek. Ek kry werk in ‘n firma wat inligtingstelsels analiseer en integreer. Ek leer om in terme van sisteme te dink. Dit was een van die waardevolste tye in my loopbaan.
Na ‘n onverwagse oproep van die van die Direkteur Metropolitaanse Beplanning in Johannesburg, word ek weer ‘n stadsbeplanner. As deel van die onderhandelinge vir die bedeling wat in 1994 sou volg, werk ek in taakgroepe van die Sentraal Witwatersrandse Metropolitaanse Kamer, met nie-regerings organisasies, en arm gemeenskappe.
Ons leer hoe mense aan die anderkant van die draad Suid Afrika ervaar. Ook hoe aktiviste, akademici, en politici arm gemeenskappe misbruik om vir hulleself ‘n plek in die son te koop.
Op eie stoom
In 1993 keer ek na die privaatsektor terug. ‘n Jaar later begin ek ‘n praktyk in Pretoria. Ek bied van tyd tot tyd semester-kursusse in stads en streekbeplanning by Tukkies aan, en dien ‘n aantal jare as eksterne eksaminator van finale-jaar studente. Ek raak ook betrokke by die Vryemarkstigting van Suid Afrika – tot vandag toe my intellektuele tuiste.
Die groot trek
Tussen alles deur loop ek Sharon raak. Ons bou ‘n ‘vir-altyd-huis’ teen ‘n heuwel in Faerie Glen. Bekommernis oor wat die toekoms vir ons dogters inhou, laat ons oorsee kyk. Sharon kry werk by die CSIRO (Australië se WNNR). Einde 2009 trek ons Brisbane toe, sonder dat ons ‘n voet daar gesit het. Niks kan jou vir die hitte en humiditeit voorberei nie! Gelukkig is die bier koud!
Ek kry werk in Queensland se Departement Infrastruktuur en Beplanning. Ons koop ‘n huis en besluit om nooit weer te trek nie. Drie jaar later trek ons 4000 km Perth toe, waar Sharon het ‘n pos by die Universiteit van Wes-Australië aanvaar het. Ek werk as ‘n stadsbeplanner in stadsrade tot my aftrede in 2022.
Ons bly vandag in Mindarie, ‘n half-uur noord van Perth se middestad. Carl Hager, Parkie 73 vriend van skooldae af, bly binne stap-afstand! Klasmaats van Tukkie dae bly ‘n katspoeg se ry suid. Jy kan dit nie beplan nie!
Gedagtes in die lug
In Oktober 2023, op die terugvlug Australië toe, verwonder ek my aan die wolke en die amper oneindige oseaan.
Ek dink aan Pretoria Jakarandastad, sy heuwels en donderstorms, weerlig in die wolke, die reuk van reën op stof, Afrikaans, die Karoo, die Drakensberg, die wildtuin, Mosselbaai, Valiant Swart se Duisend Maande, Meiringspoort en die Swartberge, die reuk van fynbos wanneer jy oor die Outeniquapas afry George toe, somer vakansies in Glentana, en die Kaapse reën.
‘n Droom, ‘n whiskey en ‘n luiperd
My droom was om in Mosselbaai af te tree. In plek daarvan sit ek met ‘n whiskey in die hand en kyk na die son wat oor die Indiese Oseaan sak. Ek dink aan die luiperd met ‘n vangs wat ons na aan Biyamiti in ‘n boom gesien het! Ek luister na Johnny Clegg se “Scatterlings of Africa”.
Naskrif
Ten laaste. Soos Jannie Rossouw in sy kookwater toespraak opgemerk het, “By die 50-jaar reünie is ons net dankbaar dat ons nog lewe.” En, soos Jannie, hoop ek ook om almal by die 60-jaar reünie in 2033 te sien.
Groetnis en mooi loop.
Johan
———————————————–




9 Responses
Middag Johan. Dit was heerlik om jou interessante “lewensstorie” te lees! Dankie vir jou bydrae en sien jou in 2033! Terloops, hoop jy ondersteun die Bokke!
Jy sal die Springbok nooit uit my uitkry nie!
Wat n lekker lees lewe het jy nie. Dankie! Groete vir Carl Hage. Hy behoort ook vir ons te laat weet waar hy orals gevlieg het.
Dankie Herman. Ek sal Carl aanmoedig wanneer ek hom weer sien – hopelik hierdie week. Hy het die vlieg-lewe vir ‘n seiljag-lewe verruil en het al min of meer om die wêreld geseil – doen tans die Ooskus van Aus. Groetnis. Johan
Ag, so goed om jou lewensverhaal te lees, Johan.
Ek en Patty bly nou in Sunshine Coast, QLD.
Dit sal wonderlik wees om te gesels.
Omtrent so standard 7 se kant het ek en iemand van die krieket oefening af in Susex ingedraai met ons fietse toe die hael storm die wit waks uit ons slaan. Sopnat gaan skuil toe op iemand se stoep en my reis genoot se tekkie witsel loop toe in sulke strome oor die hele stoep. Na diepe oorweging dink ek nou dit was jou tekkies. Spaar my die slapelose nagte, was dit jy?
Hallo Herman. Lekker om van jou te hoor. Ek onthou die insident, maar nie of dit my tekkies was nie! Groetnis, Johan
Liewe “Bennie”
Ek het jou brief baie geniet!
Van die onnies wat jy onthou was my gunstelinge Tannie Kate, en die Sepedi menere. Mnr Gosllin het so mooi groot hanskrif gegad en op my Sotho toets in Latyn geskryf: “Per asperera ad astra!”
Ai tog die Afrikaner (Parkie) diaspora.
Ons byt vas tot die 60 jaar reunie.
Hallo Elsabe. Dankie vir jou boodskap. Ander onderwysers wat ek onthou is Mnr Berg, mej. Hartley, Mev Aggie Muller, Mnr De Nysschen, Dr van Aard (vir wie ek nogal bang was!), en ander. Ek is verstom oor waar in die wêreld on klasmaats sit – nooit gedink ek sou SA ooit verlaat nie. Mooi loop. Johan