Jannie Rossouw se toespraak Saterdagaand

Jannie het vir ons sy toespraak van Saterdagaand by Blue Crane gestuur. Hier is dit:

’n Terugblik op die skool, ons onderwysers en ons klasmaats na 50 jaar

Jannie Rossouw

25 Augustus 2023

’73 Parkies re-unie

Liewe vriende

Dit is ‘n groot voorreg om vanaand met julle almal te praat. Ek is dankbaar dat Sonja en Henning my gevra het om dit te doen.

Ek het gevra hoe lank ek moet praat. Hulle het gesê ek kan praat so lank ek wil, maar na omtrent vyf minute gaan niemand meer luister nie. Dit is ‘n duidelike opdrag en as gelukkig getroude man kan ek duidelike opdragte uitvoer. My simpatie met my vrou Sunélle, die eggenote/(s) en ander gaste van ’73 Parkies, want julle gaan nie weet waarvan ek praat nie.

Ek sal by Sonja begin. Haar pa, Ernst Schreuder, was Engelse en Duitse onderwyser en ook adjunkhoof. Ons was baie versigtig vir hom, want hy het Engels op die skoolterrein met ons gepraat. Ek was verbaas toe ek eendag toevallig hoor hy kan Afrikaans praat.  

Sonja vertel my dat ‘n leerder by geleentheid aan die begin van die jaar vir haar pa gevra het: “Sir, when are we getting our grids?” Hy het nie ‘n idee gehad waarvan die kind praat nie, maar het toe advies gevra in die personeelkamer.  Dis mos roosters, naamlik time tables, het die kollegas vir Ernst Schreuder reggehelp.

Henning se pa, Jannie Pieterse, was destyds professor by Tukkies. Hy het egter ‘n groot rol in leierskap en persoonlike ontwikkeling by die skool gespeel. Hoërskool was ‘n baie, baie sleg tyd in my lewe na my ouers verongeluk het. Jannie Pieterse se uitstekende advies in daardie moeilike tye het my tog gehelp. Hy het gesê dat ek nie die verlede kan vergeet of kan verander nie, maar dat ek tog iets positiefs ook moet kry om op te fokus. Ek het probeer, daarom het ek hele paar girlfriends in die hoërskool gehad.

Julian Visser was wiskunde-onderwyser. Seker om hom by die skool te behou, is sy vrou as Engelse onderwyseres aangestel. Sy was baie mooi. Ek kan onthou dat Julian sy ou Anglia vir iets soos R50 aan twee skoolseuns verkoop het. In vandag se geld is dit sowat R3 500, so dit klink vir my na ‘n winskopie.

Charlie Immelman het vir baie van ons Afrikaans gegee. Weens sy borrelende persoonlikheid, het sommige van die ander personeel hom Immermal genoem. Hy was talentvol en kon onder meer baie goed sing. Hy was ook verantwoordelik vir die revue, Gestaltes, in ons matriekjaar. Charlie het ook by my niggie, Debbie Cillie, aangelê, wat vir ons wiskunde en wetenskap gegee het en ook hokkie afgerig het. Ek het op ‘n tydstip tydelik by Debbie gebly en een aand Charlie se kar weggesteek terwyl hy by Debbie gekuier het.

Natuurlik sal ons vir Fanus Booysen onthou, wat altyd baie haastig was. Sy bekende woorde met vierkantopening was “Amen, stap”. Ons het almal gewag vir die die oggend wat hy dit verkeerd kry as “Stap, amen”.

In ons matriekjaar is Frans Gerber as die skoolhoof aangestel. Frans het sekerlik vir Fanus frustreer, want hy was langdradig.  Daarmee het Frans almal in matriek frustreer.

My hoërskoolloopbaan is soms vir my bietjie onduidelik, maar ek kan onthou dat ons op die Craigs se tennisbaan gedans het. Dit was groot pret, veral as Peter Maffay se liedjie, You, gespeel het.

Jeugweerbaarheid was ‘n verskrikking. Dis waar ons moes hoor dat popmusiek soos You en die Beatles se musiek van die duiwel was. Veral as jy dit agteruit speel. Nou ja, ek weet steeds nie hoe om plate agteruit te speel nie. En Sonja het my herinner dat ons moes hoor daar is ‘n kommunis agter elke bos. Verbasend dat ons na sulke onsin moes luister en dat dit opvoeding genoem is.

Ek moet ook iets oor Fred Peach sê. Hy het geskiedenis nogal interessant gemaak en was normaalweg ‘n gemoedelike man. Tot die dag dat daar voor pouse afgekondig is dat Ben Lamprecht sy kosblik by die kantoor moet kom haal. Frans Gerber het toe ook op die boodskap oor Ben se kosblik uitgebrei (op sy gewone manier) en onder meer gesê dat skoolkinders (soos ons destyds genoem is) nie hul kosblikke by die huis moet vergeet nie.

Maar dit was nie die einde van die petalje nie. Na pouse het Fred vir Ben gevra of daar biltong in sy kosblik was. Ben het onskuldig geantwoord dat dit net toebroodjies en droë perskes was. Fred het oombliklik sy humeur verloor en ons het gedink dat hy vir Ben te lyf gaan. Vir almal in die klas het dit ‘n rukkie geneem om die verband tussen Peach, die van, en droë perskes te snap.

So drie jaar gelede was dit ons oudste seun, Malherbe, se 10-jaar skool re-unie by Menlopark Hoërskool. Hy het my voor die re-unie gevra hoe dit werk. Ek het soos volg verduidelik:

By 10-jaar re-unie wil almal weet wie moes trou en wie het kinders.

By 20-jaar re-unie wil almal oor hul kinders praat.

By 30-jaar re-unie gaan dit oor flashy karre en welvaart. Wie het ryk geword?

By 40 jaar re-unie begin mense oor hul kleinkinders spog.

By 50-jaar re-unie is ons net dankbaar dat ons nog lewe.

Ek hoop om julle almal by die 60-jaar re-unie in 2033 te sien. Ek wens julle almal goeie gesondheid toe.

Dankie vir julle aandag.

2 Responses

  1. Dankie Jannie, baie pittig, soos wat mens van jou kon verwag! Ek onthou dat ek destyds besef het, al was ek nog jonk, dat dit verskriklike trauma moes wees vir jou en jou sussie om jul ouers so skielik te verloor het. Julle moes toe by jul grootouers bly, in ‘n ander provinsie en alles …. Groete, beste wense.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *