“Hierdie arts protesteer”

My brief het vanoggend (Donderdag 23 Mei 2024) in Beeld verskyn. Dit gaan oor die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, dr Nicholas Crisp se mal projek wat SA se mediese wêreld sal vernietig. “Ek skryf omdat ek woedend is”, Antjie Krog.

Die redakteur het so bietjie van my woede geredigeer, hier is die volledige teks:

Geagte Redakteur/Beste Barnard

Ek het reeds in die middel negentigs van die vorige eeu tydens ’n reeks landwye lesings teen dr Nicholas Crisp se kommunistiese planne gewaarsku. 

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), sy breinkind, gaan al Suid-Afrika se goeie dokters uit die beroep dryf om die weg te baan vir Kubaanse, Indiese, Bulgaarse en Braziliaanse generiese ekwivalente.

Aan die hart van my bekommernis lê die seker wete dat in hierdie verfoeilike sisteem daar geen ruimte vir uitnemendheid sal wees nie. “Ons is almal dieselfde” is die openlike slagspreuk van die regerende elite. Daarom verdien ons almal dieselfde mediese behandeling, sê die politici. Wie kan nou daarmee fout vind?

Dit is egter ’n growwe denkfout, want mense is nie almal dieselfde nie. Dokters ook nie. Dit is juis die dokters wat weet dat elke mens verskillend is en dat elke pasiënt individuele sorg verdien. Vir een pasiënt is bedrus genoeg behandeling en vir die ander is sjirurgie nodig. Om die verskil te maak, om die regte besluit te maak, is ’n gesonde dosis wysheid nodig. Juis daarin lê die onderskeid tussen verskillende dokters. 

Die heel beste, slimste en mees wyse dokters gebeur egter nie net vanself soos met ’n Groot Knal nie. Dit verg jare se nougesette toewyding, nagte se studie, oefen, selfs foute om heel bo uit te kom in die professie. Bo alles verg dit nederigheid, ’n bewuste erkentlikheid van mens se eie beperkinge, die ysere wil om altyd die pasiënt se belange eerste te stel en ’n onverdunde passie om te voldoen aan die Hippokratiese Eed se grootste eis – om die pasiënt nie skade aan te doen nie.

Ek het 45 jaar se ondervinding hiervan. En twee teksboeke oor die onderwerp. Daarom wil ek dit onomwonde stel dat ek nooit, ooit, aan Dr Crisp se onheilige NGV skema sal deelneem nie. Ek hoop dat my kollegas dit ook nie sal doen nie.

’n Dualistiese sisteem dryf reeds vir dekades die land se mediese sisteem: 1. Die private sisteem, wat mediese skemas soort van insluit en 2. die openbare gesondheidsorgsisteem. Ek het gekies om in die privaat sisteem te werk omdat ek geglo het dat ek daarin uitnemendheid ten beste kan bereik. 

My belangstellingsveld is endodonsie, die studie van wortelkanale. Ek het alles gedoen wat ek kon om die vakgebied onder die knie te kry, juis omdat ek gedryf was deur Hippokrates se voorskrifte. Vir my was die pasiënt se beste belange altyd ver bo my eie belang. Vir my het dit nooit oor geld gegaan nie, maar oor wat die beste vir die pasiënt was. In die proses het ek baie geleer, veral oor die unieke aard van elke mens, maar ook oor die kuns van kommunikasie. Ek haas my om te verklaar dat ek meer as genoeg foute gemaak en mislukkings ervaar het, maar dit was altyd in ’n desperate poging om ’n pasiënt te help. Ek het dikwels, miskien meestal, baie meer tyd spandeer aan ’n spesifieke taak as wat lonend sou wees, juis omdat dit in die pasiënt se beste belang was. 

Nog meer belangrik, ek het op elke pasiënt meer geld aan materiaal spandeer as wat die mediese fonds bereid was om vir die prosedure uit te betaal. Sou ek tevrede moes wees met die mediese fondse se vergoeding sou ek binne twee maande op straat gesit het. Die somme het net eenvoudig nie uitgewerk nie. Dit het my van die begin af gedwing om self uit te werk wat ek die pasiënte moes vra vir ‘n spesifieke prosedure. Ek kon nie R500 se materiale gebruik en dan R400 kry as vergoeding vir die prosedure nie. Dit was letterlik die geval in duisende prosedures die afgelope 45 jaar. Al manier wat ek uitnemendheid kon bereik was om dit op ’n winsgewende manier te doen.

Baie prosedures was uitmergelend en moeilik vir my, selfs met al die gespesialiseerde toerusting en kennis tot my beskikking, sodat my een hand vandag nie meer behoorlik wil funksioneer nie, maar dit maak nie saak nie. Al wat van belang was was dat my pasiënte die heel beste moontlike sorg sou kry, al het elke gewrig en spier in my liggaam gepyn en my oë getraan van inspanning. Ek wou net die beste doen. Af en toe het ek dit selfs reggekry. 

Elke pasiënt het my betaal vir die werk wat ek aan hulle gedoen het. Niemand anders as die pasiënt het dit gedoen nie. As hulle almal ontevrede met my diens was sou ek lankal nie meer in praktyk gewees het nie, maar ek is steeds daar omdat ek ’n diens lewer wat eintlik nie met geld gekoop kan word nie.

Nou kom Dr Crisp en sê dat hy sal besluit hoeveel geld ek vir ’n prosedure sal kry. Alternatiewelik sê hy (gaan lees die wet) hy sal besluit wat my maandelikse vergoeding sal wees. Hy is slim (slu) genoeg om te weet dat wat ek hier skryf die waarheid is. Daarom sê hy dat hy dienste gaan “koop” by die private sektor. Met ander woorde hy gaan my betaal vir ’n diens. Hy is slim genoeg om te weet dat hy dit nie kan regkry om ’n privaat praktyk te bedryf nie. Hy weet maar te goed van al die stukkende toerusting, gebrek aan materiaal en traak-my-nie-agtige personeel in die openbare sisteem. Juis daarom gaan hy al hierdie risiko’s aan my oorlaat en my slegs betaal vir die diens wat ek aan “sy” pasiënte gaan lewer. Boonop gaan hy besluit hoeveel hy my gaan betaal. As ek dan R500 se materiaal gebruik, twee ure werk en hy betaal my net R400 (of R40) dan is dit maar so. Dan is dit my probleem.

Natuurlik staan dit my vry om so effe te sny aan my standaarde en so “bietjie” van my uitnemendheid in te boet en op daardie manier darem soort van te oorleef van Dr Crisp se aalmoese. Ek is jammer Dr Crisp, maar vir jou bose skema sien ek nie kans nie. My pasiënte verdien beter as dit. (En ons is nie almal dieselfde nie.)

Koos Marais

Silver Lakes

One Response

  1. Goed gesê, Koos.
    Ons vertrou dat die nie-ANC partye van die “GNU” genoeg druk op die ANC kan uitoefen om die NGV te vertraag, of moontlik fandamenteel te kan verander.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *