Met die matriek eindeksamen het dit broekskeur gegaan. My ouboet het gese party goed tel te min, mens leer dit nie. Eers in die eksamen het ek gesien die goed saam tel nogal baie. Ek doen toe daarna Bourekenkunde en gaan maak oorlog. (Ek het gedink ons wen maar later het ek verstaan ons het verloor.) Toe moes ek my beurs en oorlogskuld afwerk en dis waar ek saam met Mossie van der Merwe geland het by DOW. Die vroee 80’s was jare van intensiteit in hartseer, gym, roei, duik en stap. Ek het gereeld in die Drakensberge gaan stap, meesal alleen, ander kere met n kitaar en soms met vriende. Tussen-in het ek weer studeer en word toe n advokaat. Dit word ek nog steeds, dit hou my pot aan die kook.
In die middel 80s het Melanie my in die hande gekry en begin maniere leer. Sy is n pragtige. vrolike mens, meer as wat ek verdien. Sy het my die wereld buite Pretoria gewys. Hoogtepunte vir my was die stappe van hut tot hut in the Alpe bo Stubaital. Na leegleery van 12 jaar en merkbaar meer verganklik het ons vroeg in Julie weer gegaan, die keer net om stukkies daarvan te doen. Wat ek toe uitvind is dat swaartekrag baie erger geword het.
Ek kan dit nie maak nie maar ek het groot waardering vir musiek. Net die wat in my kraal pas. Leonard Cohen se konserte was besonders. Sy heengaan was n groot slag vir my.
Ek het altyd honde as vriende gehad. Onlangs was daar Woelie, kort vir Waluschka. Ek het nooit geweet n mens en sy Rottweiler kan so erg oor mekaar wees nie. Die groet was baie baie hartseer. Nou is daar George, Charlie en Bella. Charlie is n Chihuahua, erg liberaal, hy byt sonder onderskeid. George helder die dae op. Elke mens moet n George he. Bella het op haar oudag blyplek gesoek en kom intrek.
So 12 jaar gelede het ek begin perdry. Mens moet die dinge eintlik begin as jy nog klein is en n wip in jou val het. Ek is n vrotsige ruiter en sit nou met pyne en n bietjie laswerk. DJ het oud geword en probleme gekry. Om van n perd afskeid te neem is verskriklik, sulke forse diere. Nou het ek n groot Franse ploeg perd, Fairy Tale. Ek hou eintlik meer van die perd as van ry. Melanie het ook n perd en beserings. Die twee perde bly by ons in Johannesburg, waar mense skaamteloos heeldag Engels praat. Ek ken ook al n paar woorde wat ek oordeelkundig gebruik om lang sinne te maak.
As ons moeg is rus ons in die fynbos so n entjie van Boggomsbaai en as ek my plek in die miernes verkoop kry gaan ek my staan kry op n plasie, eintlik maar twee beboste koppies, teen die Langeberg by Riversdal, met komplimente aan Teams wat die wereld vir my oopgemaak het.
Dit is my storie.

2 Responses
Herman, ek het nou lekker gelag vir jou storie. Ek dink jy moet nou met ‘n derde loopbaan begin- as storieverteller.
Lekker storie, Herman. Jou opmerking oor die mense wat skaamteloos Engels praat , herinner my aan een van Dana Snyman se stories oor ‘n ou aan die Weskus wat gesê het toe hy matriek klaar gemaak het, het hy net twee Engelse woorde geken: Ford en Mobil!