Henning het gevra dat ek hierdie Facebook plasing met ons klasmaats deel. Daar was nooit stof nie; dit kon dus nie gaan lê nie. Ek verwys na my aftrede wat so paar maande stelselmatig begin het en nou iets van die verre verlede is. Ek kan werklik nie glo dat ek eens op ’n tyd ’n tandarts was nie, dat dit ’n beroep was wat ek inderwaarheid vir meer as 45 jaar met ’n mate van onderskeiding en met groot toewyding beoefen het nie.
Dit was ’n doelbewuste besluit om hierdie aftrede nie met trompetgeskal en dromsolo aan te kondig nie. Dit was goed om net stadig in die vergetelheid te verdwyn, presies soos dit gaan gebeur wanneer ek doodgaan.
Nou hoekom skryf ek dan hier en nou daaroor? My uittrede uit ’n praktyk wat ek op 1 Julie 1981 in Die Meent in Pretoria se middestad begin het, in presies dieselfde kantoor wat voor my deur die berugte Thor Communicators van die Inligtingskandaal geokkupeer is, het my ’n groot les geleer wat ek graag wil deel.
Om ’n tandarts te wees is sonder ’n sweempie van twyfel die mees ondankbare werk wat daar is. Dit ly tot baie geestes- en ander probleme, wat ek deur harde werk, geloof en genade gesystap het. Inteendeel ek het baie hoogtepunte beleef. Miskien was die belangrikste die ontwikkeling van ’n patent wat nou nog groot diens aan die mensdom lewer. Toe Covid in 2020 uitbreek het die gesaghebbende Nature tydskrif ’n 1999 artikel van my opgediep en geherpubliseer. Ek self het vir 12 jaar by Tukkies en 2 jaar by Wits as deeltydse dosent gewerk en ’n lang lys artikels gepubliseer. Ek het ook twee boeke oor die filosofie van tandheelkunde geskryf. (Gratis beskikbaar op www.koosmarais.com) My grootste “prestasie” egter, glo ek, is dat ek gedurende my professionele lewe krampagtig vasgeklou het aan die mantra, Primum Non Nocere, die opsomming van die Hippokratiese Eed. Dit word beter in Engels gesê: “First Do No Harm.” Dit is ook deel van die titel van een van my boeke.
Ek was werklik hartstogtelik lief vir my werk. Ek het dit as ’n eer en ’n groot verantwoordelikheid beskou om die beroep te beoefen en het gedink dat ek sou aanhou totdat ek nie meer kon nie. Daardie tyd het, as gevolg van gesondheidsprobleme, vinniger gekom as wat ek wou, maar nou dat dit ’n voldonge en afgehandelde feit is het ’n nuwe perspektief gekom. Dit is hierdie perspektief wat ek wil deel en wat my daartoe bring om wel so bietjie die trompet te blaas.
Ek is nou finaal klaar met tandheelkunde en sal en wil nooit weer aan ’n pasiënt raak nie. Nooit weer nie. Onder geen omstandighede nie.
Hoekom voel ek so sterk daaroor? Hoekom het hierdie gedagte eers by my opgedoem nadat dit klaar gebeur het? Hoekom het ek nooit voorheen so gevoel nie?
Ek dink ek weet hoekom.
Op ’n manier het ek die genade gehad om altyd in die hier en nou te leef. Terwyl ek gewerk het as tandarts en ook nou dat ek afgetree is. In Engels praat hulle van “Mindfulness” waarvoor ons nog nie ’n lekker Afrikaanse woord het nie. Sonder dat ek elke dag daaraan gedink het was ek “mindful”. Ek het gedoen wat ek moes en het ’n bewuste besluit geneem om dit wat ek doen te geniet, selfs al was dit nie sogenaamd lekker nie. Dit was my keuse. Ek het ’n wonderlike vriend en kollega gehad saam met wie ek baie jare gejag het. Hy het graag, tong in die kies, maar met ’n tikkie dodelike erns, vertel hoe hy soggens voor werk eers by die agterdeur gaan staan en braak het, gedagtig aan die dag wat voorlê. Hy het uiteindelik, soos heelwat tandartse, die pad van selfdood gekies. Ek het anders gekies.
Nou hier is die ding. Noudat ek afgetree is het my oë oopgegaan. Ek sien nou tandheelkunde vir wat dit is: ’n uiters moeilike, ondankbare en swak betaalde professie wat jou gesondheid op velerlei wyses aftakel. Ek sien dit orals rondom my in die oë en liggame van my ouerwordende kollegas.
Dit was inderdaad lekker om my pasiënte die afgelope 45 jaar te dien, maar nou het die tyd aangebreek om aan te beweeg. Elke dag is beter as die vorige dag, ten spyte van ’n paar gesondheidsprobleme. Ek dank die Here daarvoor. Miga 6:8 “Hy het aan jou, mens bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die HERE van jou as om te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”

4 Responses
Sterkte daar. Ek tree ook nou af.
Gaan bly in klein dorpie in die Wes Kaap naamlik Wittedrift.
My jongste dogter en haar man bly ook daar.
Groete.
Beste Koos, Ek dink dit is die Calvinistiese skuld geen wat ons laat werk al is dit vir min en al vat die goewerment meer as die helfde daarvan. Die geen laat hom nie sommer onderdruk nie. Dit was so in standard 6 of 7 wat ek gevoel het om die skuld geen te onderdruk en n dag by die huis te bly. So teen 10 uur stap ek toe uit om n perske te pluk en net toe vlieg die Mirage oor ons huis. Ek het onmiddelik besef dat die “ed – lab” kaarte (ek dink dit is wat die register genoem was) seker ingestuur is en die Mirage gestuur is om na my te soek. Ek bly toe maar die dag onder dak. Die Mirages is nou al opgeroes maar ek voel nog veiliger onder dak tot na 5.
Jy het nou die geen n kopskoot gegee. Ek gee maar baba treetjies. Ek kan nou al sonder n das loop al skyn die son nog en party dae tart ek hom met n kortmou hemp.
Dankie dat jy die blad aan die lewe hou. Alle heil.
Herman, ek “sien” jou onder daai dak! Baie humoristies beskryf! Dalk kan ons die “skuld”-gedeelte van die Calvinistiese geen probeer afskud en net die meer positiewe (en effens minder ongemaklike!) geneigdheid tot hardwerkendheid behou! Gelukkig kan ek daarvan getuig dat mens selfs daai deel kan maerder skaaf, hoe meer mens oefen daaraan! Groete en beste wense!
Liewe Koos Marais, jy het wonderlike werk gedoen in jou praktyk en as dosent en as skrywer van baie artikels en boeke (en nog lekker boeke!)! Ek is bly jy het nou afgetree en mag jy en Ingrid die lewe nog meer as voorheen geniet!