Anetha (Lochner) de Wet

Hier sit ek nou – 67 jaar oud.

Hoe vinnig het die tyd nie verbygegaan nie?

Dit voel soos gister dat ek ’n jong meisie in Menlopark was. Soms verlang ek nog na my jeug.

Na skool het ek Universiteit Pretoria toe gegaan waar ek tale gestudeer het. 

Tale, tale, tale – Afrikaans, Engels, Frans, Latyn en Grieks. Ek het my graad in 1976 met lof geslaag.

Ek is aan die einde van 1976 getroud met Cobus de Wet, ’n elektriese ingenieur en oud-Menloparker, op wie ek halsoorkop verlief geraak het. 

Daarna het ek Latyn Honneurs gedoen en dit ook met lof geslaag. 

Hierna was ek ’n paar jaar ’n dosent in Latyn by Unisa voor die baba-gogga my ook gebyt het.

Twee kinders het gevolg – ek het die “Jackpot” geslaan met ’n seuntjie eerste en ’n dogtertjie tweede.

My dogter is deesdae ’n professor in statistiek by UP. My seun, skoondogter en kleinseun is in NZ waar dit baie goed met hulle gaan.

Die kinders was vir my wonderliker as enige prestasie wat ek in die lewe behaal het. Gedurende die kinderjare het ek ietwat van ’n boheemse leefstyl ontwikkel – geskilder, gedigte geskryf (waarvan sommige gepubliseer is), my mandolien en sleutelbord vaardighede verbeter, Franse ”conversation” klasse geneem en ook iewers langs die pad ’n Honneurs in sielkunde by UP gedoen. 

Nadat ons “afgetree” het, het ek, my man en die familiehond in ’n “granny flat” in Eldopark Landgoed in Eldoraigne in Centurion by my dogter en skoonseun gaan woon. Deesdae doen ek taalredigering van doktorale tesisse, dissertasies, artikels en akademiese boeke, selfs kinderboeke.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *