Nooiensvan: NVT
Ek is in Stellenbosch gebore en het eers in die hoërskool by die 1973-matriekgroep van Die Hoërskool Menlopark aangesluit. Sedertdien woon ek in Pretoria, wat na my mening die beste klimaat in Suid-Afrika het.
Na skool het ek ekonomie voorgraads en nagraads aan die Universiteit van Pretoria en nagraads aan die Universiteit van KwaZulu-Natal studeer. Die grootste deel van my loopbaan was by die SA Reserwebank, waar ek in 2012 afgetree het. Ek ondersteun steeds die SA Reserwebank se beleid teen inflasie en gebruik die uitdrukking inflation is ungood™, waarop ek ‘n handelsmerk het.
Na die SA Reserwebank het ek die universiteitswese aangedurf. Hier het ek geleer dat Henry Kissinger reg was met sy opmerking the reason that university politics is so vicious is because stakes are so small. By die Universiteit van die Witwatersrand was ek hoof van die Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe en daarna was ek tot my aftrede tussentydse hoof van Wits Bestuurskool (WBS).
Sedert hierdie aftrede is ek besoekende professor by WBS en werk ek as ekonomiese konsultant vir my maatskappy, Jannie Rossouw Consulting (Edms) Bpk. As politieke ekonoom lewer ek mediakommentaar en doen ek radio- en televisie-onderhoude. Ek skryf ook vir verskeie publikasies.
Ek is met Sunélle (née Ehlers) getroud en ons woon reeds sowat 35 jaar in dieselfde huis in Waterkloof X1 in Pretoria. Sunélle is ‘n onderwyseres by Nuwe Hoopskool vir kinders met spesiale leerbehoeftes en serebrale parese. Nuwe Hoopskool is baie naby Die Hoërskool Menlopark.
Ons het twee kinders, wat albei aan Die Hoërskool Menlopark gematrikuleer het. Malherbe is ‘n kommersiële hommeltuigoperateur (drone pilot) en tegniese direkteur van CAD Mapping (Edms) Bpk in Pretoria. Carina is ‘n ouditklerk in Kaapstad en is getroud met Aron Hyman. Hy is ‘n ondersoekende joernalis by Times Media en die Sunday Times.
So dit is ‘n opsomming van 50 jaar se lewe, wat in ‘n oogwink verby gesnel het. Ek het darem een stokperdjie. Ek het ‘n paar klassieke motors (ek kan glad nie self aan hulle werk nie) en my stokperdjie is klassieke motortydrenne met Sunélle as navigator.