Saartjie (van Zyl) Potgieter

Na matriek het ek BSc Dieetkunde by Tukkies studeer en in my finale jaar in 1977 is ek in die middel van die winter in Ermelo (!) met ST Potgieter getroud. Hy is ‘n broer van Etienne en neef van ST wat saam met ons op skool was. Ons woon rustig in Sunnyside en aan die einde van die jaar ontvoer hy my na Ficksburg in die pragtige en somtyds ysige Oos-Vrystaat, waar hy as landboukundige werk. Daar is ons dogter Igna gebore en dis ook daar wat ons besef koudkry is net in die koppe van grootmense en hoe lekker dit is om kersies vars van ‘n boom te pluk! In 1984 verhuis ons na Middelburg in Mpumalanga waar ST by Sasol Kunsmis werk en ek ‘n dieetkundepraktyk bedryf. 
Nadat Igna matriek daar voltooi het bevind ons ons weer in die Oos-Vrystaat terwyl sy aan Tukkies studeer. Hierdie keer in Clocolan waar ons by die verbouiing van allerhande interessante plante en die produksie van aromatiese olies betrokke is. 
Vanaf 2000 woon ons in Centurion. ST werk vir ‘n kunsmismaatskappy met die hele bosveld as sy area en ek begin om vir ‘n tuisnywerheid beskuit te bak. Iets wat later handig te pas kom om vliegkaartjies te koop toe die reisgogga ons ook byt. Ek dink ek was ‘n Italianer in my vorige lewe! Buiten Italië reis ons ook wyd deur Frankryk se platteland en ons gaan kyk ook waar is die dorpie Delft in Nederland waar die van Zyl stamvader vandaan kom, en kan gladnie verstaan hoekom hy daar wou padgee nie!
Intussen behaal Igna haar graad in Kommunikasiepatologie by Tukkies waar Maggi Soer ook dosent was. Sy besluit om terug te gaan na haar wortels en vestig haarself as suksesvolle en baie geliefde oudioloog in Middelburg. Hier ontmoet sy haar wederhelf en word ons ‘n pragtige kleindogter Mia ryker. 
Dit is egter ook hier waar die ondenkbare gebeur wat geen ouer veronderstel is om te beleef nie. In 2012 sterf Igna op 33 op ‘n uiters tragiese wyse en ons is verpletter. Maar danksy wonderlike familie en vriende se ondersteuning en gebede en baie genade kon ons aangaan. Mens het eintlik geen keuse nie. Mia was maar 8 en ons is van toe af baie betrokke in haar lewe en kon haar ook uiteindelik, net voor COVID ons toesluit, Parys en Italië gaan wys wat ‘n groot voorreg was.
Nou geniet ons aftrede. ST konsulteer nog ‘n paar boere, ek deel gratis reg-eet raad uit en maak klere en kunsgoed, ons vroetel in die tuin, doen gemeentedinge en hou van reis in ons land, opvoerings, fliek en lekker kuier saam met familie en vriende. 
Maar ‘n hoogtepunt is om elke jaar Krugerwildtuin toe te gaan waar daar by ons geliefkoosde boskamp, Biyamiti, ‘n tafel by ‘n uitkykpunt opgesit is ter herinnering aan ons dogter.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *