Gera (Kolbe) Botes

Dis vir my so lekker om almal se lewensverhale te lees ..weens die lang tydsverloop van Matriek tot nou kan mens nie altyd almal plaas nie..sommige se gesigte wil-wil bekend lyk en sommige se name is nog goed in die geheue. Maar wat ek wel kan sien is dat ons almal ouer geraak het. Snaaks dat mens nog die jonger weergawe in jou gedagtes sien as jy terug onthou né. 
Ek was na skool student by die Burgerlike Beskermings Kollege in George. Dalene Greylingh was ook saam met my n soldoedie. Dit was n fees van n jaar met ondervindings wat mens nie in die gewone lewe sou teëkom nie. Ek het dit beskou as n “finishing school” waar ons oa verpleging, noodhulp, motoronderhoud en bestuur..ook Bedfords en busse, radioprosedure en kaartlees, dril en paradegrond aktiwiteite, skiet met verskeie wapens nes die ouens in die army,en baie ander goed geleer het.
Daarna het ek gaan regte swot op Tuks waar ek my toekonstige man Lukas ontmoet het. Ek het na my BA graad buitemuurs met LLB begin maar gevoel dis nie vir my nie en n jaar later by Krygkor begin werk by Finansies, Buitelandse Verkryging en geeïndig by die Regsafdeling voor my eersteling se koms. 
In Jan 1982 is ons getroud en is later geseën met 2 dogters, Lola en Gera en n seun Danie. Terwyl die kinders nog klein was het ek Sielkunde deur Unisa studeer..kinderontwikkeling was vir my interessant.
Dit was altyd my droom om eendag weer in George te kom woon en Des 1993 trek ons af George toe Eers op die mooiste kampus in die land, Saasveld, waar ek deeltyds Landboureg doseer het (al my ou lesings opgeswot en aangepas!) vir die landbou en bosboustudente.
Later het ons op n melkplaas buite Hoekwil gewoon waar Lukas die melkery en plaas bestuur het en ek het by Seeff in Wildernis gewerk as verhuringsagent en later eiendomsagent. Toe die eiendomsmark begin afneem het ek by die Vleiegemeente in die kantoor begin werk en meer betrokke geraak in uitreiking onder die plaasgemeenskap en skole.
Ons woon amper 20jaar in Wildernis, n klipgooi van die see af. Ek is baie lief vir die bosveld en sy diere maar die see het vir my die grootste bekoring. En hier kom ons kinders en 4 kleinkinders gereeld kuier..my dogters en gesinne onderskeidelik van Pretoria en Durbanville en my seun wat wêreldwyd vir Rooikruis Internasionaal werk, en sy gesinnetjie vanaf Kenia. 
Ek het kontak met Martjie Roos en sien ook vir Millie Wessels de Villiers af en toe in Wildernis Village en by die kerk. Ek is nog steeds werksaam by die kerk, hou my besig met Bybelstudie saam met verskeie groepe en is ook n ingeskrewe student van Israel Bible Institute. 
Ongelukkig kan ek nie die reűnie bywoon nie..ek gaan DV my kleinseun in Kenia oppas. Ek was darem by die vorige byeenkoms in Pretoria in 2013. Julle moet dit baie geniet hoor!

One Response

  1. Liewe Gera
    Hoe lekker om van jou te hoor , jou lewensverhaal te lees en die mooi kiekies te aanskou. Jy jet nog daai mooi glimlag.
    Greote

    Karien

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *