Na skool het ek 2 jaar diensplig gedoen. Daarna begin ek studeer by Universiteit Pretoria aan my BA studies met staatsleer en internasionale politiek as hoof vakke. Ek ontmoet my vrou Alida Herbst (van der Merwe) in 1980 en ons trou 8 maande later. Sy was ook ‘n parkie en het in 1976 gematrikuleer. Ons was in 3 skole saam en ons ouers het saam gewerk en gekuier maar ons het mekaar nooit ontmoet nie.
Ek het as hifi verkoopsman gewerk terwyl ek my studies buitemuurs klaar gemaak het. In 1981 begin ek by buitelandse sake werk. Ons oudste dogter Nicolette is in 1983 gebore. Ons eerste missie was Portugal in 1985 tot 1989 en daar is twee van my dogters (Jeanette en Henriette) gebore. Ons seun Johann-Henning is in 1992 gebore en ons is 4 maande later verplaas na Chicago vir 4 jaar. Ek was verkiesingsbeampte vir Suid Afrika in 1994 in Ohio in Amerika.
Ons keer terug na Suid Afrika in 1997. Ek het besluit om in 2014 op 58 af te tree. Het vir ‘n kort ruk by die Deense ambassade gewerk en toe begin met my passie naamlik alternatiewe energie. In 2015 sluit ons aan by die Allsolar groep wat tans 35 takke landswyd het. Ons tak is Allsolar Pretoria Oos en dis wonderlik om mense te kan help met rugsteun krag en solar.
Ons het 4 kleinkinders. Twee seuns Caleb (8) en Jordan (6) is ons oudste dogter Nicolette se kinders en twee dogters Lea (8) en Zoe(4) is ons tweede oudste dogter Jeanette se kinders. Ons jongste twee is nog ongetroud.
Die 3 dogters en al die kleinkinders is in Perth in Australie en ons seun is nog in Suid Afrika en werk as assistent bewaarder in Balule wat grens aan die Kruger wildtuin.
Ons bly baie lekker in ‘n eco estate Waterlake Farm Estate in Pretoria Oos met ‘n pragtige 20 hektaar dam en baie wild (zebras, koedoes, apies, springbokke, waterbokke, blesbokke en vele meer).
Verlede jaar was ons 5 maande in Australie en aan die einde van hierdie jaar gaan ons weer kuier vir 3 maande. Ons is altwee gesond doen elke Saterdag parkrun en stap graag op die estate. Die lewe is goed vir ons en ons besigheid hou ons uit die kwaad uit. Ek voel baie bevoorreg om die 50 jaar reunie van ons jaar in Menlopark te kan bywoon.


