Hoe som mens vyftig jaar se lief en leed in ʼn paar paragrawe op?
Na matriek gaan studeer ek drama op Stellenbosch en later op Tukkies. Daarna het ek vir ‘n jaar film- en televisie werk gedoen. In 1978 trou ek met James Polley en ons vestig ons in Kaapstad. Hier het ek drie kinders grootgemaak en deeltyds dramaklasse gegee by Tamboerskloof Laerskool waar my kinders op skool was. James het in 1976 die eerste Internasionale Filmfees in Suid Afrika geloods en vir 8 jaar het ek die fees se skakelwerk en fondsinsameling behartig. In 1999 is James aan kanker oorlede.
Om die pot aan die kook te hou het ek vir Telkom in hul internet-bemarkingskantoor gewerk en daarna as fondsinsamelaar en skakelbeampte vir verskeie nie-regerings organisasies wat mense met HIV/ Vigs ondersteun het. My laaste aanstelling was as Nasionale Disseminasie Bestuurder vir die Suid Afrikaanse Rooi Kruis.
In 2003 ontmoet ek my huidige man, Robert Denovan. Ons is nou 12 jaar getroud. Saam het ons 5 kinders en 4 kleinkinders. Gelukkig vir ons bly almal in Kaapstad.
Na my aftrede het ek my hand aan skryf gewaag en ʼn paar radio-dramas vir RSG geskryf. Om lang ente in die natuur te stap voed my siel. Ek lees baie, skryf, geniet ʼn goeie rolprent, is lief vir die teater en gaan graag na kunsuitstallings. Verder maak ek tuin, kuier met vriendinne en geniet ons groot familie.
Ek sien uit daarna om saam te kuier. Min dae!