Na matriek begin ST sy teologiese studies in BA BD by die Universiteit van Pretoria. Hy legitimeer in Desember 1980.
Tydens sy studiejare by Tukkies is hy ‘n inwoner van die manskoshuis Sonop. Hy is lief vir sport en speel rugby en tennis vir die koshuis, onder-20 rugby vir Tukkies en is betrokke by die ASB.
Direk na sy teologiese studies doen hy vir 2 jaar, 1981 en 1982 sy militêre diensplig as kapelaan in die Vloot by Simonstad. Op 18 Februarie 1982 is hy ’n oorlewende op die fregat, die SAS President Kruger, wat sink na ‘n botsing met die aanvullingsskip, die SAS Tafelberg.
In 1983 is ST georden en bevestig as predikant in die NG kerk Louisvale, Upington. Daar woon en werk hy vir 5 jaar as jong, enkellopende dominee in die boere-gemeenskap en skakel ook aktief in by die tennisklub.
Op Louisvale begin hy deeltyds met sy MTh studies deur die Universiteit van Stellenbosch. In Maart 1987 tydens ‘n maandkamp by die vlootbasis in Gordonsbaai ontmoet ST sy lewensmaat, Eljo van Heerden, ‘n onderwyseres by Bellville Hoërskool.
In Oktober 1987 ontvang ST ‘n beroep na die NG Kerk Bellville Uitsig as 3de leraar, wat hy toe aanvaar.
ST en Eljo trou Desember 1987 op Worcester en in Januarie 1988 word ST bevestig in Bellville-Uitsiggemeente. Hier is hy baie betrokke met die aanbieding van kursusse by die Tygerberg-Bybelskool. Einde 1988 ontvang hy sy MTh graad in Gemeentebou met Dr Jurgens Hendriks as sy studieleier.
Tydens sy bediening in Bellville-Uitsiggemeente, begin hy sy doktorale studies deur die Universiteit van Pretoria. Sport bly ook altyd ’n prioriteit en hy neem aan half- marathons deel, besoek die gim gereeld en speel klubtennis.
Hul dogter Lize is in 1990 gebore en hul seun, Kobus in 1992.
In 2000 ontvang ST sy doktorsgraad, DD, in die Nuwe Testament met Prof Jan van der Watt as sy promotor.
Na 16 as leraar in Bellville-Uitsiggemeente aanvaar hy ‘n beroep na die NG kerk Alberton-Oos deur die proses van standplaasruiling. In Julie 2004 verruil die Potgieters dus die Kaap vir Gauteng. In Alberton-Oos is ST die enigste predikant tot met sy aftrede 16 jaar later in Junie 2020. Hy bly sportief en speel tennis en gim gereeld.
Gedurende hulle tyd in Johannesburg is albei sy ouers in Pretoria oorlede, sy ma Mercia in 2017 en sy, pa Ds Kobus, in Augustus 2020, en hy lei albei se begrafnisdienste.
Lize en Kobus is albei Tukkies. Lize het as geöktrooieerde rekenmeester kwalifiseer en Kobus het BCom Informatika studeer. Albei woon en werk tans in die Kaap.
Na sy aftrede verhuis ST en Eljo na die Wes-Kaap en vestig November 2020 in Wellington in die Weskaap, waar suster Marthinet en swaer Nelus ook woon.
ST bly steeds ‘n lojale Blou Bul!