Sonja (Schroeder) Bosch

“Life is the art of drawing without an eraser” (John W Gardner) – dit is sekerlik ‘n lewenservaring wat ons almal gemaak het. Gelukkig wil ek darem (nog) nie te veel van my lewe ná matriek sou wou uitvee nie…

Tydens my matriekjaar het ‘n aanlegtoets aangedui dat ek sou kon kies tussen ‘n studierigting in óf tale óf wiskunde. My keuse was toe tale aangesien my aanleg daarvoor nie net in my gene was nie, maar ook deur onderwysers gevorm is. Hier dink ek spesifiek aan Ma’am Kate Geldenhuis en Fräulein Valerie Pretorius. Die ander vakgebied wat my na aan die hart gelê het, was aardrykskunde, geïnspireer deur Mnr Fanus Booysen. Op universiteit het ek, bo en behalwe drie tale (Engels, Duits en Zulu), ook aardrykskunde as hoofvak gehad. Tydens my voorgraadse Afrikataalstudies het ek Mnumzane Ben Goslin, oud-onderwyser van Menlopark weer raakgeloop, en hy was my inspirasie vir voortgesette studies en navorsing oor Zulutaalkunde. Nadat ek ‘n meestersgraad by UP voltooi het, het ‘n doktorsgraad by Unisa gevolg. Intussen is ek ook as beëdigde vertaler van die Hooggeregshof toegelaat.

Wat my akademiese loopbaan betref, het ek by Unisa as junior lektor begin en was uiteindelik departementshoof van Afrikatale. Die wiskundetalent het uiteindelik tot sy reg gekom toe ek betrokke begin raak het by die tegnologiese ontwikkeling van Afrilkatale, soos die eerste speltoetser vir Zulu, asook die African Wordnet, ‘n digitale leksikale databasis vir nege Afrikatale. Ek het die voorreg gehad om internasionale kongresse wêreldwyd by te woon, en deel te wees van internasionale projekte en komitees. Na my aftrede twee jaar gelede is ek as emeritus- en buitengewone professor steeds betrokke by nagraadse studenteleiding en navorsingsprojekte. 

Twee maande voor sy beplande permanente terugkeer na Switserland, het ek die man in my lewe ontmoet. George en ek deel ‘n belangstelling in klassieke musiek en opera, en oor die jare heen het hy my by sy versameling van klassieke motors betrek. Weens ons liefde vir die mooi dinge in die lewe het ons ook by bibliophilie betrokke geraak, waar ons ‘n jaar gelede die Kranich-uitgewery in Zürich, wat in 1958 deur sy ouers gestig is, oorgeneem het.

Ons het drie kinders – ‘n seun en dogter wat albei as meganiese ingenieurs by UP gekwalifiseer
het, en ‘n dogter wat haar mediese graad en spesialisasie as kinderarts aan die Universität
Zürich gedoen het. Aldrie is getroud, en woon en werk in Europa. Ons twee voorskoolse
kleindogters is in Duitsland.
Noudat ons meer tyd op hande het, kan aktiwiteite wat oor die jare op ys geplaas is, nou afskop –
ek het uiteindelik begin gholf speel en George het weer begin vlieg, perfekte tydverdryf in die
Suid-Afrikaanse klimaat, afgewissel met gereelde besoeke in Europa – kinders, kleinkinders,
sake, musiek, opera en klassieke motors.
Om almal ná 50 jaar weer fisies te sien of op die webblad te «ontmoet» sal beslis soos ‘n
tydsverdraaiing wees, maar ek sien baie uit daarna!

One Response

  1. Sonja – dis ‘n baie ryk lewe wat jy beskryf!
    Ek sien werklik daarna uit om jou weer te sien en vir George te ontmoet!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *