Beste Klasmaats
Dit is baie jare gelede dat ek die meeste van julle laas gesien het. So ietsie oor my lewe: Na ons matriekjaar in 1973 is ek Universiteit toe. Ek het in 1978 my BA LLB by UP voltooi.
My studentejare by Tukkies was gelukkig. Ek het onder andere twee jaar op die Joolkomitee gedien, waar ek nogal so tussen die partytjies deur geleer het van fondswerwing, dinge reël, en so meer. Ek het steeds ‘n bietjie sport beoefen, meestal gholf saam met ou bekendes soos Vossie (Francois de Vos), Johan (Koornhof) en Marius (Nadel) en dan ook krieket – ’n sport wat my tot vandag toe baie na aan die hart lê.
Ek is na Universiteit getroud met Helen van der Horst en uit ons huwelik is twee pragtige kinders gebore, Alewyn en Truida. Beide van hulle het as regsgeleerdes gekwalifiseer. Alewyn is in Pretoria en Truida in die Kaap. Ek het twee wonderlike kleinkinders, Milla en Nicolaas. Ek en Helen is in 1993 uitmekaar.
My werksloopbaan het ek by Tukkies spandeer: basies in twee hoedanighede, naamlik as dosent en as bestuurder. En beide was vir my ‘n groot voorreg. Waar en hoe?
Ek het in 1981 teruggekeer na Tukkies as senior lektor in die Departement Handels- en Arbeidsreg. My belangstelling is en was maar die Kontraktereg en sy verskillende verskyningsvorme. Ek was in daardie vroeë jare ook die Koshuishoof by Huis Olienhout. Louis (van Rooy) was koshuishoof by Mopanie. Waarlik wonderlike jare.
Ek het in 1985 my LLM aan UP behaal en in 1989 my LLD by die destydse RAU. My studieleier was prof Jannie Otto. My LLD-proefskrif het oor verbruikerskrediet gehandel. Ek het in daardie jare heelwat gepubliseer – veral oor verbruikerskrediet. Ek het klasgee werklik geniet en hopelik het ek studente iets geleer. Ek het dit altyd as ‘n enorme voorreg beskou om met jong mense te kon werk.
Ek het in 2001 Registrateur by UP geword, ’n posisie wat ek tot aan die einde van 2017 beklee het. Tydens my 17 jaar as Registrateur was ek verantwoordelik vir interne institusionele beheer, Akademiese Administrasie, Regsdienste en die Studentediensentrum. By tye was ek ook verantwoordelik vir die Departemente van Studentesake, Koshuise, Fasiliteit en Dienste, Sekuriteit, en Interne Oudit, asook vir UP se Sportportefeulje wat insluit die hpc en die TuksSport Hoërskool. Ek was vir baie jare op die direksies van die UP kampusmaatskappye (onder andere AmaTuks). Gegewe my lewenslange liefde vir sport, was dit vir my ’n enorme voorreg om deel te kon wees van UP se sportprogram – dinge soos die bou van die hpc, die TuksSport Hoërskool en so meer.
In my jare as Registrateur het ek saam met ongelooflike goeie en bekwame mense gewerk. Mense wat gewerk het vir iets groter as hulself. Dit is jammer dat ons in soveel van ons openbare instellings daardie ingesteldheid verloor het. Die lewe is maar ‘n bietjie soos ‘n plaasdam: As jy meer uittap as wat jy intap, raak die dam mettertyd leeg. Dit geld vir instellings ook.
In my laaste drie jaar voor aftrede was ek die Direkteur vir die Eenheid vir Versekeringsreg by UP. Ek het tans ’n na-aftrede aanstelling in dieselfde pos wat in Desember 2024 tot ’n einde kom.
Benewens bogenoemde was ek betrokke by ’n aantal organisasies buite die Universiteit. Ek het vir etlike jare gedien op die direksie van Iemas (Koöp) Bpk – vir twee termyne as Voorsitter. Op daardie stadium was Iemas (Koöp) Bpk die grootste handelskoöperasie in die land. Ek was ook ‘n direksielid van MiWay Versekeringsmaatskappy, wat ’n uitsonderlike ervaring was.
Op die oomblik is ek nog net by een maatskappy betrokke, te wete die Blou Bulle Rugby-unie, waar ek dien op die direksie.
As een van julle onnutsige (ja ja, selfs stout) klasmaats, wil ek na al hierdie jare vir julle almal baie dankie sê dat ek deel kon wees van julle lewens – al was dit net vir ’n paar jaar op hoërskool. En spesifiek vir my ou Voortrekker-spanmaats met wie mens nog gereeld kontak hou. Julle is die beste. MER het na mense soos julle verwys as Gewers: Gewers van vriendskap, ondersteuning en goedheid.
Binne ’n paar maande is dit ons 50-jaar reünie. Dalk sal ek julle nie herken nie en julle nie vir my nie. Maar as ek so deur ’n ou Eggo of twee blaai, kry die foto’s lewe en dink ek met dankbaarheid terug aan baie goeie tye baie jare gelede. Wat ek in daardie paar jaar saam met julle ervaar het, het my lewe gevorm. ’n Opregte dankie daarvoor.
Ek hoop om julle almal by die reünie te sien.