Herman van Vuuren maak vuur onder …

Dit was baie lekker om gisteroggend ‘n epos van klasmaat Herman te kry. Ek plaas dit hieronder, maar vergun my die geleentheid om sy gevoelens te eggo, en nog iets in konteks by te voeg. Herman vra onder andere dat nog meer klasmaats hulle nuus en stories hier moet deel. Kom ons doen dit, groot asseblief. My biologiese vrou, van 49 jaar, Igrid néé Doms, (vir my sê sy altyd ja) was twee jaar na ons in matriek, ook in Menlopark. Hulle klas vier vanjaar hulle 50e reünie en dit is ‘n groot affêre, selfs groter as wat ons s’n was. Die ding is dat die groot dryfveer agter hulle reünie hoofdogter Era (Senekal) Swanepoel en haar merkwaardige man, Stefan Swanepoel, is. Jan Wium, hoofseun. van destyds sal my verskoon as ek só sê want wat daardie Senekals doen is ongelooflik. Nadat hulle ‘n massiewe konglomeraat van besighede in SA opgebou het het hulle 20-25 jaar gelede na die VSA verhuis en dieselfde daar gedoen. Hulle is nou afgetree in Hawaii vanwaar hulle alles insit om die reünie ‘n sukses te maak. Era was reeds hier om ‘n paar goed te reël en het ook met Ingrid gekuier. Daar is reeds 100 mense wat aangedui het dat hulle die funksies gaan bywoon. Net soos ons het hulle ‘n webblad (ek dink hulle het ons so bietjie gecopycat) waar daar ongelooflike verhale gepubliseer is. Besoek gerus www.parkies75.com. En gaan sit dan asseblief en skryf iets. Ek gaan later vandag nog iets van Jannie Rossouw hier plaas, maar hier is Herman se skreeusnaakse storie:

Swak Piketdorp Swak!

Hulle sê: soos die pad vorentoe korter word kyk mens al meer agter toe. So kyk ek gereeld op die blad en soek n bietjie herinneringe maar dit is wragtig net Koos wat dit aan die gang hou. Dan dink ek altyd: Swak Piketdorp swak.

Die man van Piketdorp het die nag erg beskonke deur die begraafplaas geloop, in ‘n oop graf geval en sommer daar geslaap. Die volgende more voor sonop kom die trein verby met n magtige fluit. Die kêrel skrik wakker, sien die oop graf waarin hy lê en dink dit is die groot dag met die laaste basuin wat blaas. Tewyl die basuin nog blaas klim hy uit sy graf en kyk met verwagting rond net om te sien dat hy die enigste een is by n oop graf. Dis toe dat hy sê: Swak Piketdorp Swak!

Daar is n klomp mense saam met wie ek nog kortbroek gedra het en van wie ek graag sal wil weet hoe hulle die draaie gevat het. Skryf jou storie man, asb.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *