Jannie Rossouw in Rapport

Jannie het gisteraand belowe om meegaande artikel in vanoggend (26 Augustus 23) se Rapport vir ons in elektroniese formaat beskikbaar te stel. Intussen is hier ‘n skermgreep.

Wat vir Nommer 1 geld, moet tog ook Jan Publiek geld?

Jannie Rossouw

Besoekende professor en ‘n afgetrede Adjunkhoofbestuurder van die SA Reserwebank

Ons weet lank reeds van buitelandse valuta wat uit ‘n bank (sitbank, nie ‘n finansiële instelling nie) op Phala Phala, president Cyril Ramaphosa se plaas, gesteel is. Die blote feit dat die geld in ‘n meubelstuk versteek was en nie in ‘n kluis of selfs in ‘n bank (finansiële instelling) bewaar is was nie, laat rooi ligte flikker.

Daar was ‘n parlementêre ondersoek na die voorval, wat nie veel aan die lig gebring het nie. Die huidige inligting is dat ‘n voornemende koper buffels op Phala Phala wou aankoop. Die voornemende koper het die koopsom van sowat VS$580 000 as betaling vir die buffels op Phala Phala gelos, maar die buffels is nooit afgelewer nie.

Die SA Reserwebank het ‘n ondersoek na die transaksie uitgevoer kragtens die bank se verantwoordelikheid vir valutabeheer. Dit is een verantwoordelikheid van die sentrale bank waarvan ons vergeet wanneer daar nie probleme is nie.

Monetêre beleid en rentekoerse is daagliks onder bespreking en banknote en munte is deel van die lewe. In elektroniese en kaarttransaksies gebruik ons die nasionale betaalstelsel om bedrae tussen rekeninge, mense en na besighede te skuif, sonder om enige ag daarop te slaan.

Valutabeheer is egter sedert 1939 ‘n integrale deel van die Suid-Afrikaanse finansiële landskap, hoewel dit in onlangse jare stelselmatig vir inwoners van die land verslap is. Na Suid-Afrika in 1961 ‘n Republiek geword het, was daar werklik drakoniese valutabeheer oor inwoners.

Valutabeheer is ‘n beleidsinstrument van die nasionale regering. Die SA Reserwebank is in samewerking met Suid-Afrikaanse handelsbanke vir die administrasie daarvan verantwoordelik.

Die SA Reserwebank het die valutabeheerimplikasies van die diefstal by Phala Phala ondersoek. Dit is immers algemene kennis dat sowat VS$580 000 in buitelandse valuta gesteel is.

Die SA Reserwebank het ‘n kort verklaring na afloop van die ondersoek uitgereik, maar nie die hele ondersoekverslag nie. Die ondersoekbevindings is kragtens Artikel 33 van die SA Reserwebankwet nie gepubliseer nie. Hierdie artikel bevat voorskrifte oor geheimhouding van die bank se bedrywighede. By wyse van opsomming, maak hierdie artikel onder meer vir bekendmaking van inligting kragtens wetgewing en regsprosesse voorsiening, maar nie in die normale verloop van sake nie. 

Volgens die openbare verklaring, is die SA Reserwebank se bevinding is dat daar geen valutabeheeroortreding was deur Ramaphosa of Ntaba Nyoni Estates CC, die regsentiteit waarbinne Phala Phala geregistreer is nie. Die grondslag vir die bevinding is dat die betrokke transaksie onderhewig was aan opskortende voorwaardes wat nie nagekom is nie ( … the transaction in question was subject to conditions precedent which were not fulfilled, and therefore there was no legal entitlement … ). Gevolglik was daar volgens die SA Reserwebank geen wetlike aanspraak deur Ramaphosa of Ntaba Nyoni Estate op die buitelandse valuta nie.

Hierdie bevinding van die SA Reserwebank lei tot meer vrae as wat dit beantwoord. My voorspelling is dat hierdie bevinding tot in die Konstitusionele Hof betwis gaan word, want hier is baie op die spel.

Natuurlik moet die SA Reserwebank se bevinding saamgelees word met die baie volledige verslag van die Artikel 89-ondersoek onder voorsitterskap van afgetrede hoofregter Ncgobo. Die Artikel 89-verslag bevat en bespreek onder meer Ramaphosa se verklaring oor die VS$580 000 wat op 25 Desember 2019 op Phala Phala in ontvangs geneem is.

Uit die Artikel 89-verslag blyk onder meer dat Ramaphosa sekere opdragte gegee het oor die hantering van die kontant wat vir die verkoop van buffels ontvang is. Sy opdrag was onder meer dat dit gebank (soos by ‘n finansiële instelling) moet word wanneer mnr Von Wielligh, die hoofbestuurder van Phala Phala, na die plaas terugkeer ( … I said the money ought to be kept on the farm until Mr von Wielligh would have the opportunity to process matters related to the transaction and thereafter have the money banked … ).

Die vraag is dus of Ramaphosa volgens hierdie opdrag eienaarskap van die geld aanvaar het en selfs opdrag gegee het hoe dit hanteer moet word. Regsgeleerdes gaan skatryk word uit die ontleding van die Artikel 89-ondersoek en die SA Reserwebank se bevinding in die valutabeheerondersoek.

‘n Ander belangrike kwessie is die toepassing van valutabeheer. Word dit soms selektief toegepas? Wat vir Nommer Een geld, moet sekerlik ook vir al ander 60 miljoen Suid-Afrikaners geld?

Phala Phala sal vir altyd aan Ramaphosa bly kleef, selfs na ‘n verslag oor hoe onskuldig hy is. Ek is een van die minderheid in Suid-Afrika wat steeds oortuig is dat Ramaphosa moes bedank het toe die Phala Phala-skandaal aan die lig gekom het. Ramaphosa se geloofwaardigheid het eenvoudig té veel skade gelei.

Die teenargument is natuurlik dat Ramaphosa die beste leier in die ANC is. Daarom moet alle etiese beginsels laat vaar word. Dit is egter ‘n swak argument. Die probleme met die vise-kanselier by Stellenbosch Universiteit toon dat etiese beginsels eenvoudig nie onderhandelbaar is nie.

Die ander argument is dat die volgende staatshoof slegter as Ramaphosa mag wees. Hoewel dit moontlik waar is, is dit ook ‘n swak argument. Ramaphosa se raklewe is immers (as maksimum) beperk tot 2029.

Die grondwet bepaal dat die Suid-Afrikaanse staatshoof net twee termyne kan dien. Dit is regtig in niemand se belang om die grondwet te verander om Ramaphosa ter wille te wees nie.

Dit laat ons met valutabeheer. Na die Phala Phala-bevinding van die SA Reserwebank, gaan baie Suid-Afrikaners wie se valutabeheersake ondersoek word, bloot aanvoer dat opskortende voorwaardes van transaksies nie nagekom is nie.

Die SA Reserwebank se bevinding toon duidelik dat valutabeheer ‘n uitgediende stelsel is. Dit is tyd vir die Suid-Afrikaanse regering om valutabeheer af te skaf. Dan kan die staatshoof buitelandse valuta op enige plek wegsteek en die SA Reserwebank hoef nie vir verskonings te soek vir die gedrag van die staatshoof nie.

Bronne:

Report of the Section 89 Independent Panel appointed to conduct a preliminary enquiry on the motion proposing a Section 89 Inquiry, chaired by retired Chief Justice S Sandile Ngcobo.

SA Reserve Bank Act, No 90 of 1989, as amended.

SA Reserve Bank. Media release: SARB Phala Phala Report. 21 August 2023.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *