Ons het heerlik gekuier. Later meer (ons moet nou skool toe gaan!)
Dit is nou later. Sondagoggend. Ons kan nou rustig terugkyk op ‘n onvergeetlike naweek, 50 jaar nadat ons in matriek was. Gisteraand het ons die naweek afgesluit saam met die matrieks van 1983, 1993, 2003 en 2013. Ons het by die skool gekuier tot laataand, maar nie heeltemal so laat soos Vrydagaand by Blue Crane, ons privaat funksie, nie. Vrydagaand was baie spesiaal. Selfs die Springbokspan het saamgespeel en die All Blacks hulle grootste loesing ooit gegee.
Die aand (vrydagaand) se verrigtinge is geopen deur Henning Pieterse, onderhoofseun en voorsitter van die komitee wat die reünie gereël het. Hy het vir (ds) Lourens Geldenhuys gevra om die bedankings te doen. Lourens het ons laat “Baaaaie, baaaie, dankie” sê vir almal wat so hard moes werk, tot groot vermaak van almal. Sonja (Schroeder), hoofmeisie, Karien Scheepers Polley, Francois de Vos en Jannie Rossouwhet ons gedagtes teruggeneem na ons matriekjaar met hulle toesprake. Francois (Vossie) het ons veral laat skater met ‘n paar stories wat ons al vergeet het, en ‘n paar waarvan ons nog nooit geweet het nie.
So tussendeur het die ou foto’s van ons skooltyd op die skerm gerol en ‘n hoogtepunt was die ou filmmateriaal wat Willem Theunissen verskaf het. Ons kon kyk hoe ons tekere gegaan het op ons laaste skooldag. Mettertyd sal ons daardie film ook op die webblad plaas.
Vyftig jaar is ‘n lang tyd. Ons kon vir mekaar vertel van al ons vreugdes, suksesse, pyn, lyding en plesier. Een ding weet ons almal. Die lewe is nie maklik nie. Laataand, na die rugby het ‘n paar van ons in ‘n kringetjie gestaan. ‘n Jong man, nie deel van ons groep nie kon homself nie bedwing nie. Hy kon sien hier was ‘n groep vreemde ou ooms wat iets spesiaals gedeel het. Hy het kom gesels en toe hy hoor wat die geleentheid was het ‘n rukkie gedink en toe vra hy op ‘n baie ernstige noot of hy ‘n vraag aan ons kon stel. Natuurlik het ons ingestem. Toe vra hy, “Wat is daar in julle lewe waaroor julle spyt is?” Dit was laat; ons was vrolik na die feesvieringe en die rugby, maar skielik was almal doodernstig. Ek het gesê dat ek spyt is ek het nooit geleer om ‘n musiekinstrument te bespeel en ‘n Afrika-taal te praat nie, maar dit was eintlik net ‘n manier om tyd te wen en bietjie te peins oor wat regtig saak maak. Ons het almal effens verleë gestotter en stamel. Mettertyd het ons konsensus bereik. Al wat werklik rede tot spyt was was die geleenthede wat ons laat verbyglip het om liefde uit te deel en om ‘n verskil in mense se lewens te maak. Die klomp ou omies in die kringetjie het mekaar met nuwe, ou, oë aangekyk en ons het geweet dat ons iets baie spesiaals beleef het, Vrydagaand en die afgelope 50 jaar en die vorige 5 jaar. Die Hoërskool Menlopark het ‘n rol gespeel en van ons mense gemaak, mense wat weet hoe belangrik dit is om mekaar lief te hê en vir mekaar om te gee.
Natuurlik het dit nie met ons almal ewe goed gegaan die afgelope 50 jaar nie. Vir party het die lewe moeilike paaie geloop. Dit sou naïef wees om te dink dat al die matrieks van 73 wat nog leef die funksie sou bywoon. Vir party sou die pyn net te veel wees. Een of twee skoolmaats sou dalk met wrokke en negatiewe gedagtes moes saamleef en het verkies om tuis te bly. Aan die ander kant was daar ‘n klomp van ons wat wel daar was ten spyte van groot en ernstige terugslae. Dit het mens tot groot nederigheid gestem.
Ons tyd raak min, ons word minder, maar kom ons kyk anders daarna. Kom ons gebruik die tyd wat ons het om mekaar lief te hê en vir mekaar om te gee. Kom ons hou oor ‘n jaar of twee weer so ‘n byeenkoms. Watch this space!
















































































One Response
Dankie vir die fotos!
Heerlik om almal weer te sien.